Arts
Kunsteweek op die rooi duine ’n eerste vir Kalahari─── 08:43 Wed, 02 Jul 2025

“Ons hoop is dat die rooi duine dit gaan uitsing van baie ontdekte en opkomende talent wat ’n gawe van God is. Ons as organiseerders, kunstenaars en kunsliefhebbers is geroepe en instrumenteel om dit te koester en te help ontsluit.”
So gesels die organiseerders van ’n kunsteweek van 7 tot 9 Oktober op Van Zylsrus in die Noord-Kaap wanneer verskeie kunstenaars gaan saamspan om die kunste tussen die rooi duine te laat gedy.
Dis nie ’n fees nie maar ’n geleentheid vir almal wat belangstel in gratis kunslesse vir die kinders van die gemeenskap en betaalde kunsklasse vir meer ervare entoesiaste in verskillende genres. Van die genres is bricolage beeldhouwerk, pottebakkersklasse op die outydse manier en skilderkuns.
Dit is ’n gemeenskapsprojek vir almal op Van Zylsrus met die doel om vir mense kunsvaardighede te leer en hulle bewus te maak van die natuurskoon van die Kalahari.
Die organiseerders is Pieter Pienaar en Carol Preston van Bridge Co-Creators. Hulle glo uitlewing in kuns kan lewens omswaai met nuwe motivering en die ontdekking van eie talente.
Kuruman is Pienaar se tuisdorp waar hy op ’n plaas in die distrik grootgeword het. Sy broer woon naby Van Zylsrus.
Pieter Pienaar en Carol Preston, bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars van Bridge Co-Creators. Foto verskaf
Enigiemand van heinde en ver wat ’n behoefte aan kunsinspirasie het, kan gerus die kunsteweek meemaak. Kunstenaars wat wil meedoen aan opelugskildersessies kan veral aansluit.
Straatkuns en -musiek kan ’n integrale deel van die kunsteprogram word as genoeg mense belangstel. Gratis, sowel as betaalde klasse vir geregistreerde, meer ervare kunstenaars is beskikbaar.
“Ons wil kreatiwiteit bevorder,” sê Pienaar. “Kunsvaardighede gaan onder leiding van ervare kunstenaars ontwikkel word. Ons hoop om daarmee die plaaslike gemeenskap te betrek en kunsbewus te maak.
Die kunsklasse vir geregistreerde kunstenaars sal in die dorp se gemeenskapsaal en in die NG kerksaal plaasvind. Foto verskaf
“Ek glo daar is baie onontdekte kunstenaars wat self nie weet hoe talentvol hulle is nie. Baie Noord-Kaapse kunstenaars is saam opgewonde oor die kunsteweek, en die inisiatief is ook ’n geleentheid om ’n databasis van die plaaslike beeldende kunstenaars in die Kalahari te genereer.”
Pienaar is ’n kunsonderwyser, skilderkunstenaar, skrywer en stigterslid van Bridge Co-Creators, ’n kunstegerigte onderneming wat deur samewerkende kunsaktiwiteite aan belangstellendes die geleentheid wil bied om opnuut met verwondering en respek na hulself en ander in groepsverband te kyk.
Dit is die eerste keer dat só ’n projek op Van Zylsrus aangebied word, en gemeenskapsleiers op hierdie duinedorp is gretig om deel daarvan te wees.
“Ons bly in die Groen Kalahari, wat in vele opsigte ’n unieke natuurervaring is,” vertel Pienaar. “Ons is op die roete na die Kalagadi-oorgrenspark en ander gewilde reisbestemmings.
“Die internasionale meerkatnavorsingstasie wat al jare deur plaaslike en internasionale nagraadse studente in stand gehou word, is ook in die Van Zylsrus-omgewing. Daar is vele geleenthede vir fotografie en omgewingsbesigtiging, veral vir die voëlliefhebbers.
“’n Groot aantrekkingskrag is die skep van ’n wandelpad onder leiding van Anni Snyman vir die bewusmaking van aasvoëlbewaring, wat gedeeltelik deur die Franse regering bevorder en gefinansier word.”
Die NG kerksaal. Foto verskaf
Voorts hoop hulle Van Zylsrus se strate gaan wemel van straatmusikante en -kunstenaars. “Uiteraard het ons borgskappe nodig, veral om uit te reik na die mense van die gemeenskap.
“Dit stel ons in staat om ervare kunstenaars na Van Zylsrus te nooi wat ook deel in die visie om mense bloot te stel aan kunsuitlewing. Dit is veral die jeug vir wie dit motivering en ’n nuwe lewensbeskouing kan inhou.”
Van die interessanthede is vrye deelname aan bricolage-beeldhouwerk in die buitelug onder leiding van Carol Preston en vennote. Shane Mayongo, ’n opkomende keramiekkunstenaar van Upington, gaan pottebakkersklasse aanbied.
Die keramiekkunstenaar Shane Mayongo gaan pottebakkersklasse aanbied. Foto verskaf
Fotografieliefhebbers sal hulle kan uitleef as natuurfotograwe in ’n omgewing waar omtrent elke sonsondergang verruklik mooi is wanneer die warm gloed agter die kameeldoringbome weggly.
Die kunsklasse vir geregistreerde kunstenaars sal in die dorp se gemeenskapsaal en in die NG kerksaal plaasvind. Daar sal ook kunsuitstalruimtes vir kunstenaars en kunsvlyters wees.
Enige navrae kan gerig word aan Pienaar by 083 585 3512 en enige borge wat geroepe voel om sekere aspekte van die kunsteweek te borg, kan hom ook nader. Heelwat akkommodasie is beskikbaar in die omgewing vir besoekers.
OFM Nuus/Susan Maré mvh/cg