On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Voormalige Vrystaatse polisieman en vrou hoor dan vonnis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Thu, 30 Jul 2026

Voormalige Vrystaatse polisieman en vrou hoor dan vonnis | News Article
Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die vonnisoplegging van die voormalige Vrystaatse polisieman en sy vrou, wat vroeër weens ’n kragonderbreking uitgestel is, sal na verwagting Woensdag (30/7) afgehandel word.

Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie sou aanvanklik op 14 Julie in die streekhof in Welkom gevonnis word, maar ’n onvoorsiene kragonderbreking het die hofverrigtinge tot stilstand gebring. Die onderbreking is veroorsaak deur ’n fout op Eskom se netwerk by die Everest-substasie, wat die stad reeds vanaf 04:10 sonder elektrisiteit gelaat het.

Hoewel die hof oor ’n kragopwekker beskik, was dit buite werking. 

Die egpaar is op 7 April van meer as 1 000 aanklagte van crimen injuria en intimidasie skuldig bevind. Die saak spruit uit ’n jare lange vete tussen die Fouries en die Goudveldse sakemanne Manny en José Jardim.

Volgens die staat het die egpaar oor ’n tydperk van etlike jare honderde dreigende boodskappe gestuur en graffiti met beledigende uitlatings en beskuldigings op brûe, padtekens en mure dwarsoor die Goudveld aangebring.

Daniel en Anna Fourie buite die hofsaal. Foto: Charne van der Merwe

Die Fouries is aanvanklik ook van poging tot moord aangekla, nadat een van die Jardims se huise na bewering met ’n spykerbom aangeval en daarop geskiet is. Een van die koeëls het glo ’n kind rakelings gemis, maar dié aanklagte het nie deel gevorm van die eindelike skuldigbevinding nie.

Die staat voer aan dat die beweerde teistering verband hou met vermoedens dat Manny Jardim die biologiese pa van die Fouries se oudste kind is. 

Die kwessie het herhaaldelik tydens die verhoor ter sprake gekom. Fourie het aanvanklik ’n DNS-toets geweier, later ingestem, maar dit nooit laat doen nie.

Getuienis oor dreigende telefoonoproepe, ’n beweerde motorjaagtog, geskille oor vee en selfoonboodskappe, wat volgens die staat vanaf ’n nommer gestuur is waartoe slegs die egpaar toegang gehad het, is ook aan die hof voorgelê. Fourie het die bewerings ontken en volgehou die staat se getuies is onbetroubaar. 

Oudkaptein, vrou in hof oor vete met sakebroers van Goudveld | News Article

’n Voorbeeld van die graffiti. Foto verskaf

Die ses jaar lange hofsaak is herhaaldelik vertraag weens veranderings van regsverteenwoordigers, mediese redes en ander aansoeke. Selfs ná die skuldigbevinding is die verrigtinge uitgestel, nadat Fourie ’n dokument aan die hof voorgelê het wat hom na bewering as die enigste persoon magtig om sy verstandelik gestremde seun se geldsake te bestuur.

Die staat het die egtheid van die dokument bevraagteken.

Tydens die voorvonnisverrigtinge het ’n maatskaplike werker en ’n beampte van korrektiewe dienste aanbeveel dat die egpaar vir korrektiewe toesig oorweeg word. Hulle het getuig dat gevangenisstraf ’n ernstige uitwerking op die egpaar se verstandelik gestremde seun sal hê.

Adv. Allen Simpson, namens die staat, het egter aangevoer die voorvonnisverslae plaas te veel klem op die beskuldigdes en hul gesin en nie genoeg op die erns van die meer as 1 000 misdrywe en die uitwerking daarvan op die slagoffers nie.

Fourie, ’n oudpolisiekaptein, wat intussen uit die polisie ontslaan is, hou vol hy is onskuldig en het aangedui dat hy ná vonnisoplegging teen sy skuldigbevinding sal appelleer.

Adv. Allen Simpson is ingevolge artikel 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.