Central SA
Geen elektrisiteit, geen vonnis vir oudpolisieman, vrou van Welkom─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:13 Wed, 15 Jul 2026
’n Onvoorsiene kragonderbreking het die streekhof in Welkom se verrigtinge tot stilstand gedwing en die vonnisoplegging van ’n oudpolisieman en sy vrou van die Vrystaatse Goudveld gekniehalter.
Welkom was Dinsdag (14/7) sedert 04:10 sonder elektrisiteit weens ’n fout op Eskom se netwerk by die Everest-substasie. Die elektrisiteit het net ná 12:00 aangekom. Die hof beskik wel oor ’n kragopwekker, maar dit was buite werking.
Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie sou na verwagting in die streekhof in Welkom gevonnis geword het ná ’n hofsaak wat reeds ses jaar duur. Die staat en die verdediging sou ook hul slotbetoë gelewer het.
Egpaar skuldig aan meer as 1000 aanklagte
Die vonnisoplegging is uitgestel tot 30 Julie. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria. Daniel is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding, terwyl Anna se waarskuwing verleng is om die egpaar tyd te gun om reëlings vir hul verstandelik gestremde seun (34) te tref.
Die saak spruit uit ’n jare lange vete met die Goudveldse sakemanne Manny en José Jardim. Die Fouries is verantwoordelik vir honderde dreigende boodskape, intimidasie en graffiti met beledigende uitlatings wat oor jare heen dwarsoor die Goudveld verskyn het.
Die egpaar is aanvanklik ook van poging tot moord aangekla nadat een van die Jardims se huise na bewering met ’n spykerbom aangeval en daarop geskiet is. Dié aanklagte het egter nie deel uitgemaak van die eindelike skuldigbevinding nie.
Die staat het aangevoer die beweerde teistering hou verband met vermoedens dat Manny Jardim die biologiese pa van die Fouries se oudste kind is. Fourie het ’n DNS-toets aanvanklik geweier, later ingestem, maar dit nooit laat doen nie.
Die ses jaar lange hofsaak is herhaaldelik vertraag. Tydens die voorvonnisverrigtinge het die verdediging aangevoer hul gestremde seun sal ernstig benadeel word as die egpaar tronkstraf opgelê sou word, terwyl die staat volgehou het die erns van die meer as duisend misdrywe regverdig direkte gevangenisstraf.
Adv. Allen Simpson is ingevolge artikel 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
