On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Upington-model dans haar pad na wêreldverhoog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Fri, 31 Jul 2026

Upington-model dans haar pad na wêreldverhoog | News Article
Jeaneigh Borghesi. Foto verskaf

Op die maat van musiek het ’n jong meisie van Upington haar pad van die Noord-Kaap na ’n wêreldverhoog gedans en gewys dat talent, harde werk en deursettingsvermoë geen grense ken nie.

Jeaneigh Borghesi (13), ’n gr. 7-leerder aan Laerskool Oranje-Noord in Upington, het Suid-Afrika van 8 tot 11 Julie op die Ultimate International Miss International-kompetisie in San Antonio, Texas, verteenwoordig. Sy het dié geleentheid gekry nadat sy op Klerksdorp as Junior Overall Toddler and Tween of the World aangewys is.

Jeaneigh het byna ’n jaar lank vir die kompetisie voorberei. Haar voorbereiding het weeklikse loopplankoefeninge, talentontwikkeling in dans en onderhoudvoorbereiding saam met Amerikaanse afrigters deur Zoom-sessies ingesluit.

Die ure se voorbereiding het vrugte afgewerp toe sy die talentafdeling met haar dans gewen het. Sy en haar dansonderwyseres, Karine Stolper, het selfs gedurende eksamentyd ure lank geoefen.

Jeaneigh Borghesi is by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Foto verskaf

Hoewel sy verskeie titels deur die jare gewen het, sê sy haar eerste groot internasionale oorwinning op agtjarige ouderdom, toe sy Royal International Miss in Orlando gewen het, bly vir haar besonder spesiaal.

“Dié prestasie het my lewe verander en gehelp om deur sogenaamde ‘scholarship pageants’, wat op leierskap, gemeenskapsdiens en rolmodelle fokus, reeds meer as R100 000 te wen.”

Een van haar grootste prestasies tydens die jongste kompetisie was die algehele junior leierskap-toekenning. Dit spruit uit haar gemeenskapsplatform, Bee the Difference, wat sy van haar bynaam “Bytjie” afgelei het.

Sedert 2019 bestuur sy verskeie gemeenskapsprojekte en het sy reeds meer as R35 000 vir outisme-ingrypings deur jaarlikse Colour Runs ingesamel. Sy ondersteun ook gereeld plaaslike organisasies deur skenkings en geldinsameling.

Jeaneigh Borghesi se volgende groot kompetisie is Toddler and Tween of the World. Foto verskaf

Die taalverskil was volgens Jeaneigh een van die grootste uitdagingstydens die kompetisie. “Dinge word soms anders geïnterpreteer en humor kom nie altyd dieselfde oor nie, wat dit moeilik kan maak om jouself ten volle uit te druk.”

Tog was die vriendskappe wat sy met deelnemers van onder meer Engeland, Australië en verskeie Amerikaanse deelstate gesluit het, haar gunstelingdeel van die reis.

Jeaneigh skryf haar sukses grootliks toe aan die ondersteuning van haar ouers, familie, onderwysers en vriende. “Gereelde boodskappe van bemoediging het my gemotiveer om aan te hou en my beste te gee.”

Die internasionale ervaring het haar ook geleer om sterk te staan wanneer dinge nie volgens plan verloop nie. “Lig jou kop en glimlag, al voel dit moeilik. Hou aan om jou beste te gee, selfs onder groot druk.”

Om Suid-Afrika én haar skool op ’n wêreldverhoog te verteenwoordig, beteken vir haar dat sy ander jong mense wil wys dat drome bereikbaar is. Sy glo as ’n meisie uit ’n klein dorp soos Upington dit kan regkry, kan enige jong mens dit doen.

Jeaneigh se volgende groot kompetisie is Toddler and Tween of the World in Oktober. Sy beskryf dit as een van haar gunstelingkompetisies in Suid-Afrika en sien uit na vanjaar se Kersfeestema.

Sy is ook bewus van die druk waaronder jong mense vandag verkeer en wil met haar eie voorbeeld wys dat dit belangrik is om in jouself te glo en aan te hou, selfs wanneer dinge moeilik raak.

Op die verhoog is sy op haar gelukkigste. Foto verskaf

“Dit verg selfs meer van Afrikaanse deelnemers om op ’n internasionale verhoog uit te blink omdat ons onsself in ’n tweede taal moet bewys.”

Haar boodskap aan ander jong mense is eenvoudig: “Onthou, jy is genoeg. Wees ’n goeie rolmodel, glo in jouself en moenie ophou droom nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.