Central SA
Digte mis op Vrystaatse paaie veroorsaak ernstige botsings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Sat, 01 Aug 2026
Verskeie ernstige padongelukke is Saterdagoggend (1/7) op paaie in die Vrystaat aangemeld nadat digte mis sigbaarheid belemmer het.
“Nooddienste, die polisie, verkeersowerhede en die brandweer is na verskeie ongelukstonele ontbied. Motoriste word aangeraai om hul reisplanne uit te stel totdat die sigbaarheid verbeter het,” sê Sipho Towa, EMS se provinsiale woordvoerder.
Een van die ernstigste botsings het op die R26 tussen Bethlehem en Reitz tussen drie busse en ’n vragmotor plaasgevind. Altesaam 182 mense was in die botsing betrokke.
Drie mense is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem; vier is matig beseer en 13 het ligte beserings opgedoen. Nog 163 mense het slegs geringe beserings opgedoen. Die R26 is vir opruiming gesluit en motoriste moet eerder alternatiewe roetes gebruik.
'n Tweede noodlottige botsing het ook op die R26 naby die Reitz-kruising plaasgevind toe ’n bus met ’n ligte motorvoertuig gebots het. Altesaam 65 mense was in dié ongeluk betrokke.
“Vier mense is op die toneel dood verklaar, terwyl een persoon ernstig beseer is. Die pad moes ook gesluit word,” sê Towa.
Omstreeks 04:36 was daar ’n busongeluk by die R701 se T-aansluiting met Voortrekkerstraat in Smithfield. Volgens aanvanklike inligting het die bestuurder beheer oor die bus verloor en dit het omgeslaan.

Die ongeluk op die R26 by Bethlehem en Reitz. Foto verskaf
Twee mense is ernstig beseer en twee ander het matige beserings opgedoen. Die beseerdes is na die Stoffel Coetzee-hospitaal op Smithfield geneem.
Towa sê die digte mis het uiters gevaarlike toestande veroorsaak en doen ’n beroep op motoriste om versigtig te wees. “Waar moontlik, stel jou reis uit totdat die sigbaarheid verbeter. Indien jy wel moet reis, skakel jou hoofligte aan, verminder jou spoed, hou ’n veilige volgafstand en volg die aanwysings van nood- en verkeersbeamptes op die toneel.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

