Central SA
Vanderbijlpark: Ma droom seuntjie sal eendag saam met boetie, sussie speel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:34 Thu, 06 Aug 2026
Vir sy ouers is hy die betekenis van sy naam, ’n genadige geskenk van God, nadat hy as pasgebore baba teen alle verwagtinge in oorleef het.
Die nege maande oue Johan van Aswegen is op 34 weke deur ’n noodkeisersnee gebore nadat sy ma, Elize, se plasenta losgekom het. Hy het 45 dae in die neonatale intensiewesorgeenheid deurgebring, waar sy longe gehelp moes word om behoorlik te funksioneer.
In dié tyd het sy hart twee keer gaan staan en het hy bloeding en bloedklonte op sy brein ontwikkel. Sy ouers het selfs die hartverskeurende oproep van die hospitaal ontvang dat hy dit waarskynlik nie sou maak nie.
“Die grootste verligting was toe ek hom vir die eerste keer hoor huil. Ongelukkig kon ek hom nie dadelik vashou nie, want hy is onmiddellik na die eenheid geneem. Dit was ’n baie moeilike begin, maar hy het van die eerste dag af gewys hoe sterk hy is,” vertel Elize

Johan van Aswegen moet weer sekere mylpale aanleer. Foto verskaf
Nadat Johan huis toe is, het dit aanvanklik gelyk of hy mooi ontwikkel. Dié vreugde was egter van korte duur toe hy met infantiele spasmas, ’n seldsame en ernstige vorm van epilepsie, gediagnoseer is.
’n Elektroënsefalogram het bevestig sy breinaktiwiteit is abnormaal en die epileptiese toevalle het veroorsaak dat hy ontwikkelingsmylpale wat hy reeds bereik het, verloor het. Later is serebrale gestremdheid ook by hom gediagnoseer.
“My hele wêreld het in stukke geval. Ek het myself voortdurend afgevra: Hoekom my seuntjie? Ek het die fout by myself gesoek en myself vir alles blameer. Dit het my emosioneel so diep geraak dat ek uiteindelik met depressie en angs gediagnoseer is. Dit was een van die donkerste tye van my lewe,” sê Elize.
Vandag word Johan deur ’n neuroloog behandel en ontvang hy gereelde fisioterapie en arbeidsterapie. Hy moet ook opvolg-EEG’s, oog- en gehoortoetse ondergaan om sy ontwikkeling en die moontlike newe-effekte van sy medikasie te monitor.
Sy grootste uitdaging is tans om beheer oor sy nekkie te ontwikkel. “Omdat hy nog nie sy kop self kan regop hou nie, kan hy ook nie onafhanklik sit, omrol of tekens van kruip wys nie. Elke klein tree vorentoe verg baie harde werk en geduld.”

Johan van Aswegen is van sy eerste asemteug af ’n klein vegtertjie. Foto verskaf
Johan moet nou weer van voor af leer. “Dit maak dit my ongelooflik trots om te sien hoe hard hy probeer. Hy gee nooit op nie. Hy is ’n ware klein vegtertjie wat elke dag aanhou baklei om sy mylpale te bereik.”
Die koste van spesialisafsprake, terapie, medikasie en toerusting wat hy benodig om sy ontwikkeling te ondersteun plaas ’n groot finansiële las op die gesin.
“My grootste droom is dat die Here Johan volkome sal genees. Ek bid dat hy eendag ’n normale, gelukkige lewe sal hê waar hy saam met sy boetie en sussie kan lag, speel en al die dinge kan doen wat ander kinders geniet. Ek glo steeds in God se wonderwerke en hou vas aan hoop,” sê Elize.

Serebrale gestremdheid is ook by hom gediagnoseer. Foto verskaf
Die Van Aswegen-gesin het daarom ’n insameling begin om geld in te samel vir voortgesette mediese behandeling, terapie, spesialisafsprake, medikasie en ander sorg wat hy benodig.
“Johan is van sy eerste asemteug af ’n klein vegtertjie. Ten spyte van alles is hy steeds hier. Hy veg elke dag met ’n glimlag en leer ons wat ware moed beteken.
“Enige ondersteuning sal vir ons ’n geweldige verskil maak – of dit nou finansiële hulp is om sy behandeling en ontwikkeling te ondersteun, of bloot ’n gebed. Ons glo dat gebed krag het, en ons vra dat mense saam met ons sal bid dat die Here Johan sal vashou, beskerm en elke dag nuwe krag sal gee,” sê Elize.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

