On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Skok ná tieners se dood: Meisie glo verwurg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Fri, 07 Aug 2026

Skok ná tieners se dood: Meisie glo verwurg | News Article
Die twee oorledenes. Foto verskaf

Die familie van die 17-jarige wat dood in ’n lodge in die Laeveld aangetref is, sê hulle is nie gereed om onderhoude te voer nie.

Derrick en Claire Waldeck-Cooks, Cameron se ouers, het Vrydag (7/8) in ’n verklaring gevra dat onbevestigde weergawes van die gebeure nie as feite versprei word terwyl die polisie- en forensiese ondersoek voortduur nie. Hulle vra dat hul privaatheid gerespekteer word terwyl hulle die verlies van hul dogter probeer verwerk.

Cameron Rhine Waldeck-Cooks (17) en Ethan Coetzee (19) is Maandag by ’n lodge in die Sabie-omgewing in Mpumalanga dood aangetref. Hulle was in dieselfde kamer gevind.

Waldeck-Cooks, ’n gr. 11-leerder van die St. Stithian’s Girls College in Sandton, Johannesburg, het glo wurgmerke aan haar nek gehad. Coetzee, ’n oudleerling van St. Stithian’s Boys College, het glo sy eie lewe geneem.


Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar ná die uitslag van die nadoodse ondersoeke is ’n saak van moord bygevoeg.

“Die uitslae van die nadoodse ondersoek dui daarop dat die meisie moontlik verwurg is, terwyl die man moontlik sy eie lewe geneem het,” sê kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die polisie het Maandag omstreeks 07:50 ’n klagte ontvang, nadat twee mense dood by die lodge aangetref is. Met die polisie se aankoms op die toneel het beamptes die liggame van die jong man en meisie aangetref. Albei is op die toneel dood verklaar.


Cameron was glo besig om te werk na die goue vlak van The President’s Award for Youth Empowerment, Suid-Afrika se weergawe van The Duke of Edinburgh’s International Award. Sy het ’n uitnodiging aanvaar om saam met twee families op ’n staptoer in Sabie te gaan omdat dit haar sou help om die vereistes van die program te voltooi.

Die egpaar sê hulle is op 3 Augustus in kennis gestel dat Graham Coetzee, Ethan se pa, op hul dogter se liggaam afgekom het. “Ons het ’n onafhanklike forensiese patoloog aangestel wie se voorlopige bevindings daarop dui dat Cameron as gevolg van verwurging en versmoring gesterf het.”

Hulle beskryf haar as ’n geliefde dogter, suster, familielid, vriendin en leerling wat bekend was vir haar warmte, goedhartigheid en deursettingsvermoë. “Sy het opreg vir ander omgegee en jonger meisies met haar stille krag en ondersteuning geïnspireer.


“Ons verlies het ’n onmeetbare leemte in ons lewens gelaat,” sê haar ouers. Die familie bedank ook die St Stithians-gemeenskap, Cameron se vriende en die netbal- en roeigemeenskappe vir hul ondersteuning gedurende dié uiters moeilike tyd.

Die skool beskryf haar as ’n geliefde en gewaardeerde lid van die Saints-familie, wat bekend was vir haar vriendelikheid, warmte, vasberadenheid en stille krag. 

Sy was ’n uitmuntende sportvrou, veral in roei en netbal, en ’n natuurlike leier en mentor wat jonger meisies ondersteun en geïnspireer het. Sy word onthou as iemand wat met toewyding,deursettingsvermoë en opregte omgee vir ander geleef het.

Ethan word beskryf as ’n jong man van krag, toewyding en nederigheid, met ’n natuurlike warmte en charisma wat mense na hom aangetrek het.  Volgens die skool was hy passievol oor rugby, perdesport en diens aan ander, en het deur sy leierskap en ondersteuning die respek van sy spanmaats, afrigters en vriende verdien. 

Hy word onthou as iemand wat ander aangemoedig het, selfvertroue in hulle gekweek het en mense laat voel het dat hulle gesien, gewaardeer en ondersteun word.

’n Gedenkdiens sal later vandeesmaand gehou word, waarvan besonderhede nog bekendgemaak sal word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.