Central SA
Gratis skryfskool in Kimberley vir opkomende skrywers─── SUSAN MARÉ 08:22 Fri, 14 Aug 2026
Opkomende Afrikaanse skrywers, digters en dramaturge kan nader staan vir ’n kreatieweskryf-kursus van 14 tot 16 Oktober in Kimberley.
Die kursus, aangebied deur die Jakes Gerwel-stigting en die Sentrum vir Kreatiewe Skryfkunde en Afrikatale aan die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley, is vir skrywers van enige ouderdom wat nog nie voorheen gepubliseer het nie. Die genres ter sprake is dig-, kortverhaal- en dramakuns.
Mense wat inskryf kan jonk wees of diep bejaard, sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die stigting.
“Die doel is om nuwe skrywerstemme te vind en stories, toneelstukke en gedigte te help ontwikkel wat ons letterkunde sal verryk en verruim. Daar word veral gesoek na stories oor gemeenskappe wat nog nie voldoende oopgeskryf is nie.”

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting. Foto verskaf
Die stigting bied jaarliks intensiewe mentorskapsprogramme aan by Paulet-huis op KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap. Hierdie geskiedkundige woning het aan prof. Jakes Gerwel behoort, en is na sy dood deur sy weduwee, Phoebe Gerwel, aan die stigting geskenk.
Gerwel was ’n intellektueel en brugbouer wat daarin geglo het dat opvoeding en die ontsluiting van alle Suid-Afrikaners se potensiaal die boustene is vir ’n gelyke samelewing.
“Ons is ernstig oor die bevordering van die letterkunde, juis omdat ons die waarde van woorde besef. Boeke kan genees, mense bymekaar bring en groter begrip vir mekaar skep,” sê Kemp.
“Die belangrikheid van skrywers in ons samelewing mag nooit onderskat word nie. Ons is ook ernstig om jong lesers te skep deur stories oor gemeenskappe.”
Belangstellendes moet teen 18 September ’n kort skywersbio, volledige kontakbesonderhede en een van die volgende aanstuur: vyf gedigte, een kortverhaal, ’n hoofstuk uit ’n roman, of ’n dramateks.
Inskrywers moet ook ‘n kort motivering aanheg oor hoekom hulle graag wil inskryf. Dit kan per e-pos gestuur word na Theo@jgf.org.za. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

Jane de Wet aan die woord oor die skryf van ’n manuskrip. Foto verskaf
Die kursus is gratis en opkomende Afrikaanse skrywers kan kundige leiding in die genres te wagte wees. Dit projek is in samewerking met groot en klein uitgewers.
Kemp sê die stigting is bekommerd omdat nie al die opkomende skrywers hiervan te hore kom nie en ‘n groot geleentheid verlore gaan. “Ons hoop dat die nuus van hierdie skryfgeleentheid in die Noord-Kaap en veral Kimberley bekend sal word.”
Meer inligting oor die Jakes Gerwel-stigting is beskikbaar op www.jgf.org.za.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
