On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Die Lekker Span
Listen Live Streams

Central SA

Padsterftes in Vrystaat styg skerp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:07 Sat, 15 Aug 2026

Padsterftes in Vrystaat styg skerp  | News Article
Die ongelukstoneel op die R26 by Bethlehem en Reitz. Foto verskaf

Die Vrystaat beleef vanjaar ’n kommerwekkende styging in padsterftes met 432 mense wat sedert Januarie hul lewe in padongelukke verloor het.

Dit is aansienlik meer as die 368 sterftes wat in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar aangeteken is. Die jongste syfers van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) wys padsterftes in die provinsie is vanjaar op die hoogste vlak in minstens vyf jaar.

Die data is Woensdag (12/8) bespreek op ’n vergadering met Jabu Mbalula, Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, en Mkhuleko Hlengwa, adjunkminister van vervoer.

Die vergadering het gefokus op die verbetering van padveiligheid en samewerking tussen die verskillende rolspelers in die provinsie. Die doel is om praktiese maatreëls te identifiseer om die toenemende aantal noodlottige ongelukke die hoof te bied.

Naweke is veral gevaarlik. Die RTMC sê byna ’n kwart van die provinsie se padsterftes vind op Saterdae plaas en 19% op Sondae.

Van Januarie tot Augustus het 149 voetgangers in die Vrystaat gesterf. Dit is ’n skerp styging van 67,4% teenoor die 89 voetgangers wat in dieselfde tydperk verlede jaar dood is. 

Vanjaar het 155 passasiers, 118 bestuurders en tien fietsryers reeds in padongelukke in die provinsie gesterf.

Hlengwa sê die statistieke agter elke padsterfte verteenwoordig ’n menslike verhaal. “Elke slagoffer het geliefdes en familie wat deur die verlies geraak word. Dit is almal mense wat nie moes sterf nie en wie se familie nou sonder hulle moet klaarkom.”

Die erns van die situasie is onlangs weer beklemtoon deur ’n noodlottige busongeluk op die N1 naby Trompsburg. Die bus was op pad van Kaapstad na Zimbabwe toe dit op 30 Julie, sowat 24 km noord van Trompsburg, omgeslaan het nadat die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het.

Nooddienste is omstreeks 21:30 na die toneel ontbied. OFM Nuus het vroeër berig 66 beseerdes is ná die ongeluk na hospitale vervoer.

Elf mense is op die toneel dood verklaar, terwyl nog ’n passasier later  in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede is.

Die meerderheid van die slagoffers is Zimbabwiërs wat onderweg was na hul geboorteland. Van die beseerdes is 65 na die Albert Nzula-hospitaal in Trompsburg geneem, terwyl een persoon na Pelonomi in Bloemfontein oorgeplaas is en 57 pasiënte het geringe beserings opgedoen. 

Vier mense was in ’n kritieke toestand en nog vyf het ernstige beserings opgedoen. Vyf kinders en ses volwassenes is op die ongelukstoneel dood verklaar.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.