On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Die Lekker Span
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Suid-Afrikaners kry miljarde ongewenste oproepe in slegs ses maande

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Sat, 15 Aug 2026

Suid-Afrikaners kry miljarde ongewenste oproepe in slegs ses maande | News Article
Gebruikers word aangeraai om versigtig te wees vir oproepe van onbekende of internasionale nommers. Foto: Truecaller

Min dinge is so frustrerend soos ’n selfoon wat lui en dan is dit een of ander bemarkingsoproep.

Vir miljoene Suid-Afrikaners het dié daaglikse irritasie skerp toegeneem. Miljarde ongewenste oproepe is binne die eerste ses maande van die jaar gemaak en veral moontlike bedrog en onnodige bemarking is aangemeld. 

Volgens Truecaller is 17,47 miljard bemarkingsoproepe tussen Januarie en Junie geïdentifiseer. Dit is 25,2% meer as die 13,96 miljard oproepe wat in die ooreenstemende tydperk verlede jaar aangeteken is.

Truecaller se jongste halfjaardata wys Suid-Afrikaanse gebruikers het 7,18 miljard van dié oproepe geblokkeer – ’n toename van 58,6%. Die maatskappy sê die omvang en verskeidenheid van bedrogpogings neem steeds toe.

Pogings tot bedrog is kommerwekkend.  Foto: Truecaller

“Bedrieërs doen hulle voor as werknemers van banke se bedrogafdelings, boots plaaslike telefoonnommers na en gebruik selfs kunsmatige intelligensie om meer geloofwaardig voor te kom,” sê Mmathebe Zvobwo, Truecaller se direkteur van markontwikkeling vir Suid-Afrika.

Die probleem strek ook verder as telefoonoproepe. Sowat 3,71 miljard gemorsboodskappe is in die eerste helfte van vanjaar geïdentifiseer, 58,9% meer as ’n jaar gelede.

Truecaller se gebruikersnetwerk het tussen Maart en Junie alleen gehelp om 559 miljoen ongewenste nommers op te spoor.

'Truecaller het wêreldwyd sowat 500 miljoen aktiewe gebruikers'

Suid-Afrikaners is minder geneig om hierdie oproepe te beantwoord. Die persentasie geïdentifiseerde ongewenste oproepe wat wel beantwoord is, het van 10,2% in die eerste helfte van verlede jaar tot 7,8% vanjaar gedaal.

“Wat hierdie data vir ons sê, is Suid-Afrikaners begin met beter inligting terugveg. Wanneer ’n oproep as ’n hoërisiko-oproep geïdentifiseer word, besluit mense om nie daarop te reageer nie.”

Truecaller se gemeenskapsgedrewe aanmeldingsmodel is ’n belangrike verdedigingslinie namate bedrogtegnieke moeiliker word om raak te sien. Die maatskappy skryf verbeterde blokkeringsyfers ook toe aan masjienleermodelle wat nuwe ongewenste nommers binne ure kan identifiseer en filtreer.

Gebruikers word aangeraai om versigtig te wees vir oproepe van onbekende of internasionale nommers en om nooit OTP’s, PIN, wagwoorde of bankbesonderhede telefonies te deel nie. 

Wees waaksaam

Mense moet ook versigtig wees vir skakels of toepassings wat ná onverwagse oproepe per SMS of WhatsApp gestuur word.

Truecaller het wêreldwyd sowat 500 miljoen aktiewe gebruikers en sê hy het in 2025 altesaam 68 miljard ongewenste en bedrogoproepe wêreldwyd geïdentifiseer.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.