Central SA
Pyporrel in Bloemfontein gevier met Franse musiek─── SUSAN MARÉ 09:52 Tue, 18 Aug 2026
’n Konsert waarna liefhebbers van die pyporrel in Bloemfontein kan uitsien met Louri Coetzee as konsertorrelis fokus op die tradisie en innovasie van Franse orrelmusiek.
Die konsert word Sondag (23/8) om 16:00 in die NG kerk Bloemfontein-Wes gehou. Die werke van Alexandre Guilmant, César Franck en Charles-Marie Widor beloof om luisterryk en opwindend te wees.
Coetzee is die artistieke hoof en stigter van Die César Franck Consort (CFC) in Bloemfontein en werk ook as onderwyser, begeleier en uitvoerder.
Een van die strewes van die CFC is veral om die pyporrel te bevorder as solo-, begeleidings- en ensemble-instrument.

Louri Coetzee, orrelis van Bloemfontein. Foto verskaf
Coetzee het sy eerste musiekopleiding op die ouderdom van vier ontvang. Hy het sy B.Mus- en B.Mus. Hons-graad albei met lof aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal.
Sy hoofvakke was orrel en hy het onderrig ontvang van leermeesters wat diep spore in Bloemfontein se musiekopvoeding getrap het: Leonore Kloppers, Jan Beukes, prof. Albie van Schalkwyk en John Coulter.
Ná universiteit het hy verskeie ander kwalifikasies verwerf, waaronder ’n lisensiaat in orreluitvoering by Trinity College London en ‘n M.Mus.-graad in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch onder leiding van prof. Mario Nell.
Hy het in 2019 op uitnodiging van die orrelis Liesbeth Schlumberger ’n besoek aan Frankryk gebring waar hy Franse orrels eerstehands ervaar het.
Coetzee se curriculum vitae as musikant is indrukwekkend en lank. Die stigting van die CFC is ’n toevoeging tot Bloemfontein se musieklewe met gereelde konserte in verskeie genres waarin die orrel meestal as solo- en begeleidingsinstrument gebruik word.
Dit sluit sluit solo-orrelwerke in asook orrel-en-solostem/koor, orrel-en-viool, die orrel as continuo (begeleiding), klavierduette en liedsiklusse.
Leerkrag by St Michael’s
Consort se vorige samewerkings sluit in Baroque 2000, die Cathedral Singers, die pianis Johan Cromhout, die violis wyle Louis van der Watt en die orrelis Eon Malan.
Tussendeur het Coetzee aan meesterklasse deelgeneem, onder leiding van, benewens Nell en Schlumberger, ook prof. Niel Immelman (Engeland), John Reid Coulter (SA) en Martin Rein (Australië).
Sedert 2020 is Coetzee met sy musiekaktiwiteite en –betrokkenheid ook werksaam as onderwyser in klavier en teorie by St Michael’s School for Girls en orrelis van die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Noord.
As kerkorrelis reël hy deur die jaar spesiale dienste wat deur musiek uitgebeeld en vertel word, rig hy die koor af, verwerk hy musiek en gebruik hy ensembles om hierdie geleenthede te verryk.

Die konsert word in die NG kerk Bloemfontein-Wes gehou. Foto verskaf
Wat konsertgangers op 23 Augustus kan verwag, is eerstens Guilmant se Scherzo Symphonique wat die briljantheid en vitaliteit van die Franse Romantiese orrel verteenwoordig. Dit is skertsend, ligvoets op die pedale, energiek en sprankel van ritmiese patrone.
Volgende op die program is Franck se Prelude, Fuga en Variasies, Op. 18. Hierdie is een van Franck se mees geliefde werke en die taal van die musiek is diep nadenkend. Die melodieë wat ontvou is liries terwyl die harmonieë ’n atmosfeer van stille spirituele nadenke skep.
Widor se gewilde Toccata is welbekend aan die meeste orrelliefhebbers. Dit is die eerste van ses dele wat Coetzee gaan speel uit Widor se vierde Simonie in F-mineur, Op. 13 no. 4.
‘Die bewegings is buitengewoon kleurvol’
Al ses bewegings verteenwoordig die French Organ Symphony. Elk van die bewegings is buitengewoon kleurvol met ekspressiewe moontlikhede wat eie is aan die moderne Franse orrel-styl.
OFM Nuus het met Coetzee gesels oor sy liefde vir die orrel en betrokkenheid by die musieklewe van Bloemfontein. Hy sê toe hy die CFC gestig het, het hy dit gedoen in die hoop dat elke konsert meer as ’n uitvoering sal wees.
“Ek wou hê elke program moes ’n verhaal vertel, om die vriendskappe, tradisies en idees agter die musiek wat ons hoor, te ontbloot. Dit is tradisies wat van een generasie na die volgende oorgedra word.
‘Die orrel kan fluister’
“Die orrel word dikwels die Koning van Instrumente genoem, en tog was sy grootste krag vir my nog nooit sy grootte of grootsheid nie. Op sy beste is die orrel in staat tot buitengewone intimiteit, diepgaande oordenking en oorweldigende vreugde.
“Die orrel kan fluister met die sagtheid van bloot die Flute Harmonique, of weerklink met die krag van ’n volle orkes. Dis die één (enigste) instrument op aarde met so ’n buitengewone omvang van menslike uitdrukking.
“As orreliste is ons die bewaarders van ’n merkwaardige musiekerfenis. Elke uitvoering verbind ons met generasies van orrelbouers, komponiste, onderwysers en uitvoerders wat hierdie tradisie toevertrou het aan diegene wat sou volg.
“Dit is ’n verantwoordelikheid wat ek diep koester. Ek vertrou elkeen wat die konsert bywoon sal weggaan met nie net die genot van wonderlike musiek nie, maar met ’n dieper waardering vir die ryk artistieke erfenis van die pyporrel wat ons in 2026 steeds inspireer.”
’n Kaartjie vir die orreluitvoering kos R100 per persoon. Navrae kan aan Louri Coetzee gerig word by cfranck.consort@gmail.com, of besoek die César Frank Consort se Facebookblad.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

