Central SA
Papegaaivereniging van Suider-Afrika beloof ’n verrykende Parys Ekspo─── SUSAN MARÉ 11:36 Wed, 19 Aug 2026
Twee dae van kennisverbreding wag op papegaaitelers van Suider-Afrika op Parys wanneer Ekspo 2026 van 4 tot 5 September aangebied word by die Umfula Lodge net buite die dorp.
Die ekspo is veral ’n geleentheid vir telers, voëlliefhebbers, uitstallers, veeartse, verskaffers en enigiemand wat passievol is oor voëls. Besoekers kan by die groot uitstalling aanbiedings met heelwat inligting deur gassprekers verwag, terwyl uitstallers en verkopers produkte en dienste uit die hele voëlbedryf tentoonstel.
In Suid-Afrika is daar ’n groot verskeidenheid papegaaispesies wat as troeteldiere aangehou word. Dit wissel van klein, maklik-versorgbare voëltjies tot groot, hoogs intelligentes. Die land is een van die wêreld se grootste telers van sekere spesies soos die African Grey.
Papegaaie is ook van die uitdagendste troeteldiere om aan te hou weens hul hoë intelligensie, lang lewensduur en intense sosiale behoeftes. Baie mense onderskat die geweldige toewyding wat hierdie voëls vereis.

’n Ara Military Macaw. Foto verskaf
Groot spesies soos African Greys en Arakas kan van 40 tot 80 jaar oud word. Die voëls oorleef dikwels hul eienaars en die hul toekoms is dikwels in testamente ter sprake.
Papegaaie is troeteldiere wat ’n geraas kan maak en mors. Selfs die kleinste parakiet kan hard skree. As papegaaie nie van speelgoed voorsien word nie, groei hul bekke aanhoudend – hulle kou alles wat voorkom, van meubels en deure tot boeke. Papegaaie het boonop die emosionele en kognitiewe vermoëns van ’n drie- tot vyfjarige kind.
Die Papegaaivereniging van Suider-Afrika (PVSA) is die grootste amptelike organisasie wat die belange van papegaaitelers en voëlliefhebbers verteenwoordig. Die vereniging bevorder verantwoordelike voëlboerdery, etiese praktyk en die beskerming van die bedryf. Sekere papegaaispesies soos die African Grey en die Ringnekparakiet vereis permitte.
Suid-Afrika se gewildste papegaaie word verdeel in drie hoofspesies: klein papegaaiagtiges en parkiete, mediumgrootte papegaaie en groot papegaaie. Papegaaie is ’n orde uit hierdie families en bestaan uit 372 spesies.
Dr. Anton Smit, ‘n veearts wat saam met ’n handjievol kollegas in Suid-Afrika spesialiseer in voëls en self ’n voëlboer is, sê die bedryf bestaan uit vele fasette in terme van die verskillende voëls waarmee geboer word.
Sommiges bedryf die liefde vir voëls as ‘n stokperdjie en ander boer kommersieel daarmee.
“Die verskillende soorte voëls waarmee geboer word, wissel van vinkies, kanaries, skouvoëlboere en sagte- en krombekvoëls tot papegaaie. Sommige boere hou daarvan om die eksotiese spesies te bewaar of daarmee te teel.

’n Amazon Iratrix. Foto verskaf
“Ons het ook kommersiële voëlboere wat groot getalle produseer vir die wêreldmark, soos die African Grey, die Konure-papegaai, die Groenwang-Konure, en ander.
“Suid-Afrika is ’n dominante rolspeler in die wêreld se papegaaibedryf. Ons is sekerlik die grootste uitvoerder van papegaaie en ek dink ons voorsien meer as 60% vir die internasionale mark.
“Ons werk as veeartse is veral konsultasie vir telers waartydens ons hulle help om beter resultate te kry met prosedures soos chirurgiese geslagsbepaling en broei-evaluasies, en basiese bestuursadvies verskaf. Dit is alles om ons bedryf baie doeltreffend en nog beter te maak en om die voëlbedryf winsgewend te kry vir ons kommersiële boere.”
Die PVSA streef daarna om die voëlbedryf te bevorder en namens die voëlboere op te tree en deel te neem aan onderhandelings met die regeringsinstansies wat verantwoordelike is vir permitte. Dit is op provinsiale, nasionale sowel as internasionale vlak.
“Die PVSA is ’n leier in die internasionale papegaaihandel en bedryf.”
Geraldene du Preez, organiseerder van die ekspo op Parys, sê belanghebbendes word van dwarsoor Suid-Afrika verwag.
’n Cacatua Sulphurea. Foto verskaf
Dag een, Vrydag 4 September, beloof om ’n vol dag te wees met insiggewende aanbiedings deur vooraanstaande plaaslike en internasionale kenners.
Onderwerpe wat gedek word, is die bewaring en teling van die Knysnapapegaai (Cape Parrot), Cites- en Nemba-wetgewing, bioveiligheid, bek-en-veer-siekte, tegnieke vir handgrootmaak, Amazona-bestuur, volhoubare voëlboerdery, uitstallings en netwerkgeleenthede.
Du Plessis sê besoekers kan ook stalletjies verken, bedryfsverskaffers ontmoet en voordeel trek uit spesiale aanbiedinge. Die dag word afgesluit met ’n spitbraai en vermaak deur Neil Somers, ’n Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van Bethal.
Saterdag 5 September word die PVSA se lede genooi om die algemene jaarvergadering by te woon waar belangrike sake oor die toekoms van georganiseerde voëlboerdery in Suider-Afrika bespreek sal word.
“Ons sien daarna uit om telers, voëleienaars, uitstallers of mense wat bloot passievol is oor voëls by die ekspo te verwelkom. Dit is ’n uitstekende geleentheid om by kenners te leer en die voëlboerderygemeenskappe te versterk.
“Die PVSA-ekspo is een van die belangrikse byeenkomste op Suid-Afrika se kalender vir voëlboerdery.”
Besoek die PVSA se webwerf by www.pvsa.co.za vir meer besonderhede of bel Geraldene du Plessis by 083 741 1461.
OFM Nuus/Susan Maré cvs sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

