Central SA
Koalisieregerings in munisipaliteite ‘SA se voorland’─── SUSAN MARÉ 12:45 Wed, 19 Aug 2026
Koalisieregerings gaan ná 4 November die Vrystaat regeer. Daar is nie een politieke party in die Vrystaat wat groot genoeg is om die ANC uit sy kussings te lig nie, sê die VF Plus.
Die ANC is in werklikheid ‘n minderheidsgroep, want daar is meer mense wat geregistreer is wat nié stem nie as mense wat vir die ANC stem, is die boodskap van partyleiers aan kiesers op Bethlehem. Dr. Corné Mulder, nasionale leier van die VF Plus, het die dorp besoek om met lede en belangstellendes te praat.
Mulder sê die land staan aan die vooraand van koalisieregerings terwyl sowat 530 geregistreerde partye aan die munisipale verkiesing op 4 November gaan deelneem. Dit kan nie anders nie.
“Die dae is verby dat ’n politieke party kan sê: “Ék is die persoon of party vir wie jy moet stem; net óns kan die land regeer, want ons is groot. Stem vir my, ek kan alleen regeer.”

Andi Wolmarans, Lieb Liebenberg en Donald Stevens van die VF Plus in Bethlehem. Foto verskaf
Die party wat glo net hý kan die land regeer, het dalk 40% van die stemme, maar kan nie groei nie. Mulder sê hy het eerstehands gesien hoe ’n politieke party ’n koalisie twee jaar gelede laat val het: “ ’n Party wat neersien op ander partye en dink hy is die grootste, kan Suid-Afrika nie red nie.”
Mulder sê 90% van die 530 partye bestaan uit “ek, my vrou, my hond en ‘n faksmasjien”. Die VF Plus is die sewende grootste party en kan na die vyfde plek opskuif.
In die politieke sentrum is die VF Plus nie radikaal regs of links nie. Die party staan aan die regterkant weens waardes, veral Christelike waardes, is nie sosialisties nie en glo aan ’n vryemarkstelsel.
“Daarteenoor staan ’n party soos die DA links van die middel as ’n liberale party met liberale goggas. Ek glo die verkiesingsuitslae gaan laag wees en dat die DA Kaapstad vorentoe moeilik alleen sal kan regeer sonder koalisies. Ek het ’n obsessie met ’n politieke party wat sê net húlle kan, net húlle is groot.”
Kiesers moenie hul stemme mors nie. Stemme word gemors as mense oud genoeg is om te stem, maar nie geregistreer is nie. ’n Ander faktor is dat mense wel geregistreer is, maar nie gaan stem nie.
Derdens moet kiesers nie stem vir ’n party wat nie met hul waardes ooreenkom nie. Dit is ongelukkig “totsiens vir hulle wat nié geregistreer het nie”.
Mulder sê die VF Plus wat in 1994 tot stand gekom het, is nie ’n party wat wegstaan van Afrikanerskap nie. Die party erken ook die diversiteit van die land en wil ’n voertuig wees om al die gemeenskappe bymekaar te bring.
“Ons staan nie op ons knieë voor die president van Suid-Afrika nie. Dit het ook niks met pres. Cyril Ramaphosa te doen of ons oorsee gaan om met Amerika te praat nie.

Sally van Tonder, Willie Theunissen en sy vrou, Liezl. Foto verskaf
“Die ANC het meer as 30 jaar geleentheid gehad om Suid-Afrika vorentoe te vat – waarom is daar soveel probleme? Ons gaan voort om Washington toe te gaan.
“Dit is vir die VF Plus ook ’n uitdaging om in ’n liberale Suid-Afrikaanse media die party se boodskap oor te dra. Die party staan egter op sterk beginsels en gaan nie daarvan afstand doen nie.
“Tog is ek ’n optimis. Ek glo Suid-Afrika is op die draaipunt. Ons moet alles insit vir 4 November se verkiesing.”
Die VF Plus beskou homself nie as ’n klein party nie en het voetstoots ’n spoor dwarsoor Suid-Afrika. Enige party wat minder as 50% in ’n verkiesing behaal, is ook maar ’n klein party.
Boere en die landbousektor is vir die VF Plus baie belangrik. Waar ’n sterk landbougemeenskap is, floreer ’n dorp. Die teendeel is egter ook waar.
“Die VF Plus is bereid om te help en was na die VSA om te praat oor die Kill the boer-lied en landelike veiligheid. Amerika is bereid om ons te help met landelike veiligheid en ons was daar om vir die boer hulp te kry.”
Mulder moedig gemeenskappe aan om mekaar se hande te vat en só ‘n verskil te maak. Hy glo Bethlehem en Suid-Afrika is aan die vooraand van ’n ommekeer. “Ons gaan as VF Plus ’n verskil maak in álle mense se lewe in hierdie diverse land. Die tyd van radikale leierskappe is besig om verby te gaan.
“Ons moet dit in nederigheid en in genade op ons knieë doen. Dít is die pad van Suid-Afrika.”
Swak dienslewering
Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het aan OFM Nuus gesê die grootste uitdaging is swak dienslewering. Die beleidsrigting van meer as 30 jaar was een waar mense aangestel is op grond van hul velkleur en nie op meriete nie.
Diensverskaffers en besighede wat nie op grond van meriete aangestel is nie en onder die wolk van swart ekonomiese bemagtiging is, is deel van die ANC se swak beleid in die land.
“Munisipaliteite kan vir seker gered word, maar nie onder die ANC-regering nie. Koalisies is presies wat nodig is om hierdie mag te breek. Dis ’n groot geleentheid in die hande van politici.
“Koalisievennote sal egter slim gekies moet word. Ek glo dis al manier hoe die toestand van swak dienslewering omgekeer kan word. Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat ’n minderheidsgroep soos die ANC die provinsies verder vernietig nie.”
OFM Nuus/Susan Maré cvs sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

