Central SA
Jong danseres van Kimberley mik na wêreldverhoë─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:04 Thu, 20 Aug 2026
Vir ’n jong danseres van die Noord-Kaap is die verhoog nie ’n plek om voor bang te wees nie, maar ’n ruimte waar haar drome lewe kry.
Milané Junius (8), ’n leerder aan Laerskool Eureka in Kimberley, dans al vandat sy vier jaar oud is. Haar liefde vir musiek het van kleins af ’n groot rol in haar lewe gespeel, en sy het op omtrent enigiets met ’n ritme gedans.
Vandag beoefen sy verskeie dansstyle, waaronder ballet, kontemporêre dans, moderne dans en akrobatiese dans. Sy geniet dit om nuwe passies en toertjies aan te leer, maar ook om deur dans nuwe maats te ontmoet.

Milané het reeds op ’n jong ouderdom ’n indrukwekkende lys kompetisieprestasies opgebou. Foto verskaf
Vir Milané is dans egter veel meer as net ’n stokperdjie. Sy oefen van Dinsdae tot Vrydae, en soms ook op Saterdae, onder professionele afrigting in verskillende dansstyle.
Een van haar grootste uitdagings was toe sy op net sesjarige ouderdom voor ’n groot gehoor moes optree. “Om voor so baie mense te dans was baie stresvol, maar toe ek eers op die verhoog was, was al die stres vergete.”
Indrukwekkende kompetisieprestasies
Milané het reeds op ’n jong ouderdom ’n indrukwekkende lys kompetisieprestasies opgebou.
In 2024 het sy aan haar eerste American Dance Awards deelgeneem, asook aan die Dance Academy of South Africa. In 2025 het sy weer aan die American Dance Awards deelgeneem.
Sy het vroeër vanjaar ook aan Dance International deelgeneem en maak nou gereed vir nog groot geleenthede later vanjaar. Een van haar grootste prestasies tot dusver is dat sy vir twee agtereenvolgende jare gekies is om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig.

Milané hou haarself ook besig met netbal, hokkie en kitaarlesse. Foto verskaf
Hoewel sy nog nie die geleentheid gehad het om daar deel te neem nie – haar ouers voel sy is nog effens jonk – is die feit dat sy gekies is reeds iets waarop sy geweldig trots is.
Milané berei tans voor vir die American Dance Awards, wat gedurende die Oktobervakansie in Pretoria plaasvind, asook die Loschali- akrobatiese kompetisie wat in September in Middelburg aangebied word.
Agter haar harde werk en toewyding staan twee van haar grootste ondersteuners: haar ma, Mariska, en haar pa, Hein. “Hulle sorg dat ek elke dag by dans uitkom, en gee my die geleentheid om aan kompetisies deel te neem en my talent verder te ontwikkel,” vertel sy.
Wanneer sy nie dans nie, hou Milané haarself ook besig met netbal, hokkie en kitaarlesse.
Hoewel sy soms voor ’n optrede senuweeagtig is, laat sy haar nie daardeur terughou nie. “Ek is baie opgewonde en stres net ’n bietjie, maar as ek eers begin dans, is ek reg.”
‘Glo in jouself, oefen hard en geniet dit net’
Haar groot droom is om eendag haar liefde vir dans oorsee uit te leef.
“Ek wil graag ’n professionele danser in die buiteland word.” Die gesin het reeds met ’n fondsinsameling begin om haar te help om haar drome te verwesenlik.
Milané weet hoe stresvol dit kan wees om op ’n groot verhoog te staan met al die oë op jou, maar sy wil ander jong dansers aanmoedig om nie skaam te wees nie. “Glo in jouself, oefen hard en geniet dit net!”
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

