Central SA
’n Skenker se hart laat haar vandag voluit leef─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Mon, 24 Aug 2026
Sy ken nie haar naam nie en weet nie hoe sy gelyk het nie, maar sy dink elke dag aan die vrou wie se hart in haar bors klop.
Vir Melinda Nel (30), ’n laerskoolonderwyseres van Vryburg in Noordwes, is dié onbekende vrou veel meer as ’n naamlose skenker. Sy is die persoon wat haar, deur die grootste moontlike geskenk, ’n tweede kans op lewe gegee het.
Sy het vandag ’n lewe wat sy moontlik nooit sou geken het nie. Ná ’n hartoorplanting as tiener kon sy haar skoolloopbaan voltooi, studeer, begin werk, verlief raak en trou. Sy was net 12 toe sy ná ’n dansreis na Mauritius agterkom iets is nie heeltemal reg nie.
Haar hart het buitengewoon hard geklop en haar hele bolyf het saam met elke hartklop beweeg. Tog was sy ’n aktiewe, fiks jong meisie wat ballet, moderne dans en tap gedoen het en glad nie siek gevoel het nie.

Pa en dogter het albei nuwe harte gekry. Foto verskaf
Aanvanklik het Melinda selfs gedink die vreemde beweging van haar bors is interessant. “My hart het so hard geklop dat my hele bolyf saam met elke hartklop beweeg het. Ek het dit vir almal gewys.”
Haar pa, Tjaart Steyn, wat self op 21 ’n hartoorplanting gekry het, het egter dadelik vermoed iets skort. Hy het die gevoel herken van iemand wat voortdurend bewus is van sy eie hartklop.
Hy het sy vrou, Christel, vertel dat hy voor sy eie oorplanting iets soortgelyks ervaar het. Kort daarna het hulle ’n afspraak by ’n kardioloog gemaak, en die ondersoeke het bevestig dat Melinda se hart ernstig aangetas is.

Melinda en haar pa in die hospitaal. Foto verskaf
Die diagnose van kardiomiopatie het die familie onkant gevang. Melinda se hart het op daardie stadium teen slegs sowat 23% van sy kapasiteit gewerk. Sy moes onmiddellik ophou sport doen, iets wat vir ’n twaalfjarige wie se lewe grootliks om dans gedraai het, ’n enorme en moeilike aanpassing was.
Melinda het op haar pa se skoot in die dokter se spreekkamer gesit toe die nuus bekend gemaak is. Sy het na hom gekyk en gesien hoe hy sy trane probeer terughou. “In my kop het ek gedink: Maar hoekom kry ek nie maar net ’n hartoorplanting nie? Kyk hoe gesond is hy.”
Hoewel haar pa se hartoorplanting deel van haar kinderjare was, het sy nooit ten volle verstaan hoe ernstig siek hy voor die operasie was nie. Daarom het sy aanvanklik ook nie die erns van haar eie diagnose begryp nie. Eers toe haar gesondheid vinnig verswak, het die werklikheid van haar toestand ingesink.

Die egpaar is vanjaar vyf jaar getroud. Foto verskaf
Sy moes onmiddellik ophou dans, iets wat vir haar besonder moeilik was om te aanvaar. “Ek het eers gedink, nee, die dokters oordryf ’n bietjie, maar baie gou besef dis nie die geval nie.”
Haar gesondheid het egter sowat drie tot vier maande ná haar diagnose so vinnig agteruitgegaan dat sy nie meer haarself kon versorg nie. Haar ma moes haar bad en aantrek, terwyl sy meestal gelê en slaap het.
Selfs eet het ’n uitdaging geword, omdat sy amper niks meer kon inhou nie. Fisiek was die agteruitgang uitmergelend, maar emosioneel was dit vir Melinda selfs moeiliker om te sien hoe swaar haar siekte vir die mense rondom haar is.

Niemand ken die moeilike pad wat sy gestap het beter nie as haar pa. Foto verskaf
Sy het geweet sy sou gesterf het as sy nie ’n geskikte hart ontvang nie. “Ek het absolute vrede gehad. Ek het net vir die Here gevra dat Hy hulle asseblief sal troos.”
In Februarie 2009, terwyl Melinda in die intensiewesorgeenheid van die ou Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad was, het haar pediatriese kardioloog by haar bed kom staan en sy hande oor haar voete, onder die kombers, gesit.
Haar ma het die vraag gevra wat almal se lewens daardie oomblik sou verander: “Dokter, is daar ’n hart?” Die dokter het net sy kop geknik. Vir Melinda en haar familie was die nuus oorweldigend. Sy het dit met ongelooflike dankbaarheid en vrede ontvang, met die wete dat sy in God se hande was.

Vir haar man, JP, is sy genoeg. Foto verskaf
Melinda het geweet God se wil sou geskied, ongeag die uitkoms. Sy was dankbaar en opgewonde, maar het geen illusies gehad oor die erns van die situasie nie. Sy het bloot vertrou. In Februarie 2009 het sy eindelik die hartoorplanting in Kaapstad gekry wat haar lewe onherroeplik sou verander.
Toe sy ná die operasie wakker word, was haar eerste groot begeerte om te eet. Ná maande waarin sy amper niks kon inhou nie, het ’n skinkbord met driehoekige tuna-toebroodjies by haar bed gestaan. “Die broodjies het met my gepraat en net gesê: Eet my, eet my.”
Die toebroodjies het vir Melinda die begin van ’n nuwe lewe geword. Sy kon weer eet, loop en dans. Sy kon weer dinge doen wat haar siekte van haar weggeneem het. Meer as dit, het sy iets ontdek wat sy nooit voorheen geken het nie: hoe ongelooflik goed dit kan voel om werklik gesond in jou eie liggaam te wees.

Pa en dogter het vandag 'n baie sterk band. Foto verskaf
“Ek het nie geweet mens kan so goed en so lekker voel aan jou binnekant nie.” Met haar nuwe hart het Melinda haar tweede kans ten volle aangegryp. Die hartoorplanting het egter ook ’n moeilike werklikheid vir haar toekoms meegebring.
Toe Melinda en haar man, JP, mekaar ontmoet het, het sy eerlik met hom gepraat oor wat ’n toekoms saam met haar moontlik sou beteken. “Ek het vir hom gesê dat dit dalk net ek en hy sal wees, dat ek moontlik nooit vir hom kinders sal kan gee nie.”
Hy het vir haar gesê dit is reg, sy is genoeg vir hom en kinders sal ’n bonus wees. Die egpaar, wat in September vyf jaar getroud is, het steeds die begeerte om ’n kind te hê, maar hanteer die onsekerheid dag vir dag. Hulle steun mekaar wanneer een sukkel en vertrou daarop dat God se wil en plan eindelik sal geskied.
‘Ek wil hê die mense in my lewe moet weet ek’s lief vir hulle’
Die oorplanting het ook Melinda se perspektief op die lewe verander. Sy weet vandag dat môre nie gewaarborg is nie en dat mense vir wie jy lief is, moet weet jy is lief vir hulle. Klein probleme moet nie toegelaat word om die belangrikste dinge te oorheers nie. Vir haar is elke dag ’n geleentheid.
“Ek wil hê die mense in my lewe moet weet ek’s lief vir hulle.” Vir Melinda beteken voluit leef nie dat elke dag perfek moet wees nie. Dit beteken om doelbewus te leef, jou beste te gee en seker te maak dat jy, indien môre nie kom nie, nie spyt is oor hoe jy vandag geleef het nie.
“Ek wil elke dag voluit lewe sodat as ek môreoggend wakker word, ek nie spyt is oor vandag nie.” Dié ingesteldheid is volgens haar een van die grootste geskenke wat haar oorplanting haar gegee het. Om so naby aan die dood te wees, het haar geleer om die lewe nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Om te kon eet was die begin van ’n nuwe lewe vir Melinda. Foto verskaf
Vandag is die band tussen haar en haar pa besonder sterk omdat hulle iets deel wat min ander mense ooit sal verstaan. Hulle weet hoe dit voel om ernstig siek te wees, om bang te wees en terselfdertyd te probeer om die tweede kans wat hulle gekry het, ten volle te benut.
“Dit is rêrig ’n groot voorreg om iemand te hê wat presies weet hoe dit voel en waardeur jy was.” Hulle ondersteun mekaar wanneer die een sukkel en herinner mekaar om soms stadiger te gaan. Albei verstaan hoe kosbaar ’n tweede kans is en hoe belangrik dit is om dit ten volle te benut.
Dit is ook waarom orgaanskenking vir Melinda ’n saak na aan die hart is. Sy weet wat dit beteken wanneer iemand se besluit om ’n orgaan te skenk ’n ander mens se lewe verander. Sy weet ook daar is mense wat wag vir ’n geskikte orgaan wat dalk nooit betyds beskikbaar sal wees nie.
“Om ’n orgaanskenker te wees is regtig die geskenk wat mens aan iemand kan gee die dag as jy jou kop neerlê, as jou tyd verby is op aarde.” Sy hoop mense sal nie huiwer om hulself as orgaanskenkers te registreer nie. Moenie twyfel nie. Word ’n orgaanskenker en red ’n lewe.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

