Central SA
Moordverdagte van Delportshoop sterf kort voor verhoor begin─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:10 Mon, 24 Aug 2026
Geregtigheid sal nou nooit geskied in die saak teen ’n man van die Noord-Kaap wat van moord aangekla is nie.
Jacques Raath (60) is Woensdag (19/8), skaars twee weke voordat sy verhoor sou begin, oorlede. Die omstandighede rondom sy dood kon nog nie bevestig word nie, sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse en Noord-Kaapse NVG-woordvoerder. Raath is aangekla van die moord op Alvano Gundry (24).
Raath het Gundry glo op 23 Junie buite sy huis in Delportshoop doodgeskiet. Gundry is as ’n vermeende lemoendief beskou. Die voorval het omstreeks 11:30 in Krugerstraat plaasgevind. Raath is ná die voorval in hegtenis geneem en op 13 Julie op borgtog van R2 000 vrygelaat.
'Hy het slegs lemoene in sy hande gehad'
Sy verhoor sou op 1 September in die Delportshoop-landdroshof begin het. Lt.kol. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Gundry en sy vriende het moontlik probeer om lemoene by ’n huis te steel toe die skietery plaasgevind het. Gundry het na bewering in die nabygeleë Rooikoppies-gebied gewoon.
Hy het glo saam met nog ’n man deur ’n gat in die heining geklim voordat die huiseienaar ’n skoot deur ’n venster afgevuur het. “Die presiese gebeure wat tot die skietery gelei het, sou na verwagting tydens die hofsaak verder ondersoek word,” sê Senokoatsane. Die polisie het as deel van die ondersoek op verskeie vuurwapens beslag gelê.

Kenneth Jonker het ná die skietery ’n plasing op sy Facebook-blad gedeel waarin hy sy woede en kommer oor die voorval uitgespreek het. Hy sê Gundry was ongewapen en het slegs lemoene in sy hande gehad toe hy in die kop geskiet is. Volgens Jonker het Gundry geen bedreiging vir enigiemand ingehou nie.
“Die voorval het helder oordag plaasgevind. Baie van die mense in die gemeenskap is arm en is net op soek na vrugte om te eet of werkgeleenthede.” Sommige inwoners meen Raath het gereageer nadat hy die groep mans op sy eiendom opgemerk het.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
