On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Besoek nasionale parke gratis in September-week

───   10:29 Tue, 25 Aug 2026

Besoek nasionale parke gratis in September-week | News Article
’n Leeuwelpie naby Skukuza in die Krugerwildtuin. Foto: Wimpie Jonker

Die 21ste Suid-Afrikaanse Nasionale Parke-week vind vanjaar van 7 tot 13 September plaas.

In hierdie dae kan besoekers Sanparke se reservate gratis besoek, insluitend Mokala Nasionale Park suid van Kimberley. Daar is wel uitsonderings.

Die Krugerwildtuin, Golden Gate Hoogland, die Augrabies-waterval en Weskus Nasionale Park, tans midde-in die blommekykseison, bied van die Maandag tot Vrydag gratis toegang aan Suid-Afrikanse dagbesoekers, maar nie die Saterdag (12/9) en Sondag (13/9) nie.

Die Boulders-pikkewynkolonie in die Tafelberg Nasionale Park en die sweefspoor in dié bewaarde gebied is uitgesluit van die voordeel. Hier en by Namakwa Nasionale Park sal normale dagtariewe geld.

’n Trop sebras in Mokala. Foto: Brian Alexander/Facebook

Sanparke sê die veldtog is daarop gemik om die hekke oop te stel vir gesinne, gemeenskappe, skole, natuurliefhebbers en eerste-keer-besoekers om van die land se mees skouspelagtige beskermde gebiede te besoek.

Dit geld Suid-Afrikaanse burgers wat hul ID-dokument kan wys, en enige kinders jonger as 18. Verblyf, begeleide toere, wildritte en ander toerismeaktiwiteite word steeds aangebied teen normale koste.

Die owerheid sê parke se onderskeie voorwaardes en besoekerbeperkings kan verskil, ook wat die datums betref. Daarom kan belangstellendes die Sanparke-webblad besoek om seker te maak wat die reëling is by spesifieke parke.


Sedert dié jaarlikse week ingestel is, het dit een van die parke se voorste projekte geword vir openbare bewusmaking. Terwyl honderduisende dagbesoekers gelok word, help dié week se vergunning om die publiek se waardering van die land se natuurskatte te bevorder, asook die noodsaaklike rol wat die nasionale parke speel in bewaring.

Verlede jaar het meer as 105 000 mense daarvan gebruik gemaak. Besoekers aan die Golden Gate Hoogland Nasionale Park kan die week benut om die nuwe Golden Gate-glykabel op die proef te stel.

Dié glykabel is deel van pogings om die park se toerismeaanbod uit te brei en meer buitelugavonture aan te bied. Dit is minder as twee weke gelede geopen en bestaan uit sewe kabels en platforms. Die langste kabel strek 650 m ver.

Die avontuur van sowat een uur begin op ’n hoogte van ongeveer 1300 m bo seespieël en eindig by sowat 1 200 m. Dit is beskikbaar teen R650 per persoon en oop vir besoekers van ses jaar en ouer, wat minder weeg as 100 kg.

OFM Nuus cvs dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.