On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-pa veg om sy lewe terug te kry

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Wed, 26 Aug 2026

Bloemfontein-pa veg om sy lewe terug te kry | News Article
Die Terblanche-gesin. Foto verskaf

Al wat ’n Bloemfontein-pa wil hê, is om weer sy dogtertjies in sy arms vas te hou nadat ’n skielike gesondheidskrisis sy lewe tot stilstand gedwing het.

Dewan Terblanche (31) was nog altyd ’n man wat voluit geleef het. Sy bestaan het gewentel om sy gesin, sy werk as onderwyser en sy liefde vir rugby. 

Byna twee maande gelede het sy lewe egter ingrypend verander. Hy moes skielik ’n tree terugstaan van die mense en dinge wat vir hom die belangrikste is, vertel Elandri, sy vrou.

Nadat erge keelpyn hom op 25 Julie vroegoggend hospitaal toe gedwing het, het ’n reeks ondersoeke gewys hy het ernstige immuunverwante probleme.

Elandri  van Deventer vertel Dewan iemand wat nog altyd voluit geleef het. Foto verskaf

Dewan is nie iemand wat maklik dokter toe gaan nie, maar daardie oggend het Elandri besef dat iets ernstig verkeerd is.

“Hy het deur die nag herhaaldelik opgestaan vir keelsproei en pynmedikasie, maar niks het die pyn onder beheer gebring nie.” Hy het haar gevra om hom ongevalle toe te neem.

In Mediclinic is hy onder meer met Perfalgan, Tramal en Voltaren behandel, maar sy toestand het nie verbeter nie. Sy C-reaktiewe proteïenvlakke (CRP) was gevaarlik hoog en sy bloeddruklesings was vir dae kommerwekkend. 

Dewan is sy familie se kalmte in enige storm. Foto verskaf

Hy is aanvanklik met ernstige virale ulkusse in sy keel gediagnoseer en ontslaan, maar ’n week later was daar steeds min verbetering. Hy kon skaars vloeistowwe sluk, kon nie behoorlik eet nie en het al hoe swakker geword.

Verdere ondersoeke en gespesialiseerde toetse het uiteindelik gewys Dewan is immuun-gekompromitteerd en het ’n lae vlak van witbloedselle, limfosiete en immunoglobulien. Immuuntrombositopenie (Immune Thrombocytopenia, ITP) en sekondêre outo-immuun-neutropenie is ook by hom gediagnoseer.

Dit het verduidelik waarom hy aanhoudend infeksies kry en inflammasie het. “Daar was verligting omdat ons uiteindelik antwoorde gehad het, maar daar was ook baie bekommernis oor die nuwe mediese uitdagings,” sê Elandri.

Die egpaar is al vier jaar getroud. Foto verskaf

Die diagnose het nie net nuwe mediese uitdagings meegebring nie, maar ook ’n groot invloed gehad op Dewan se rol as pa, onderwyser en sportman.

Een van die moeilikste gevolge van sy toestand is dat hy nie op die oomblik die pa vir hulle kan wees waaraan sy kinders gewoond is nie. Omdat sy immuunstelsel verswak is, moet sy blootstelling aan kieme beperk word. Dit beteken dat hy party dae nie eens vir sy dogtertjies ’n nagsoentjie kan gee nie, iets wat vir hom besonder swaar is.

“Hy wil net sy twee dogtertjies vashou, saam met hulle eet, hulle optel en buite speel,” sê Elandri. Die kinders verstaan nie altyd waarom pappa nie meer alles saam met hulle kan doen nie. “Ons jongste dogtertjie verstaan dit glad nie, en dan sien ek die trane in sy oë.

Dewan is die soort pa wat altyd betrokke wil wees. Foto verskaf

“Dewan is die groot, sterk man in ons huis, maar agter daardie sterk buitekant is daar die kleinste, sagste hart,” vertel Elandri. “Hy is vir ons die kalmte in enige storm.”

Sy en Dewan ken mekaar al nege jaar en is vier jaar getroud. Nog ’n babasussie word op 3 Desember verwag, en vir sy vrou is Dewan die soort pa wat altyd betrokke wil wees.

“Hy speel buite met sy kinders, maak die tuin nat, tel hulle op en probeer deel wees van elke klein oomblik van hul dag. Vir ons is hy die hart van ons huis, ons held en die pappa waarvoor ons ongelooflik dankbaar is.”

Kinders sy passie

Dewan is al nege jaar onderwyser en gee die afgelope ses jaar wiskunde en natuurwetenskap vir gr. 4’s by Martie du Plessis-skool. “Onderwys is vir hom veel meer as net ’n beroep. Kinders is sy passie.

“Hy beskou elke kind in sy klas as sy eie,” vertel sy oor sy besondere verbintenis met sy leerders. “Hy bied selfs smiddae ekstra Wiskunde-klasse aan.”

Buite die klaskamer is sport ook ’n groot deel van sy lewe. Dewan speel klubrugby vir Polisie-rugbyklub in Bloemfontein, waar hy as agtsteman of flank uitdraf.

Hy was selfs van plan om, ondanks sy siektediagnose, aan die Vrystaatse amateurproewe deel te neem. Intussen het hy ongeveer agt kilogram verloor nadat hy weens sy siekte vir byna drie weke nie behoorlik vaste kos kon inneem nie. Hy gebruik tans Ensure twee keer per dag en volg ’n hoë-proteïendieet wat saam met ’n dieetkundige aangepas is.

Sagte kos, smoothies, eiers, hoender, jogurt en gestoofde vrugte vorm deel van sy dieet. “Elke happie het nou ’n doel. Elke maaltyd is deel van sy herstel.”

Ten spyte van die uitdagings is daar darem klein tekens van verbetering. “Hy kan darem weer soggens sy geliefde warm koppie koffie geniet.”

Die mediese fonds dek die maandelikse IV-immunoterapie wat op 1 September begin en ses maande sal voortduur, maar daar is steeds talle koste wat die gesin self moet dra.

Hy kort onder meer tweeweeklikse IV-behandelings, bloedtoetse, vitamiene, immuunmedikasie, Ensure, voorskrifte, antibiotika en ander mediese sorg.

Die tweeweeklikse IV-behandeling kos ongeveer R1 250 per sessie, terwyl Ensure ongeveer R480 per blik kos. Sy vitamien- en mineraalaanvullings beloop sowat R1 600 tot R2 000 per maand. Die gesin moes ook reeds ’n deposito van ongeveer R40 000 betaal, terwyl die mediese fonds die grootste gedeelte van die behandeling dek.

“Ons grootste uitdaging is om sy blootstelling aan kieme so laag as moontlik te hou, terwyl ons terselfdertyd seker maak sy liggaam kry al die voeding, aanvullings en ondersteuning wat dit nodig het om deur hierdie behandeling te kom.”

Sy dogtertjies verstaan nie hoekom Pappa nie meer alles saam met hulle kan doen nie. Foto verskaf

Ten spyte van alles wat verander het, weier Dewan om tou op te gooi. Sy skoolkinders stuur vir hom briefies en boodskappe en herinner hom daaraan dat hy geliefd is en weer gesond sal word.

“Hy lees elke boodskap. Hy sien elke persoon wat help,” sê Elandri. Hierdie ondersteuning gee hom krag wanneer die dae besonder moeilik raak.

Vir haar is die pad ook moeilik, maar sy sê haar geloof, haar man en hul ondersteuningsnetwerk hou haar aan die gang. “Dit is ook oukei om nie oukei te wees nie. Jy hoef nie elke dag sterk te wees nie.

“Party dae is dit genoeg om net op te staan. Party dae is dit genoeg om net aan te hou. En party dae moet iemand anders jou dra.”

Die gesin hou vas aan die hoop dat Dewan se gesondheid sal verbeter en hulle weer hul normale lewe gaan terughê. “Ons gaan eendag terugkyk en kan sê: ‘Ons het dit gemaak.’ ”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.