On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Klerk wat skool glo besteel, ses voertuie, woonwa kwyt

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Wed, 26 Aug 2026

Klerk wat skool glo besteel, ses voertuie, woonwa kwyt | News Article
Jessica Kuhn. Foto verskaf

’n Vrou wat daarvan beskuldig word dat sy miljoene rande by ’n Noord-Kaapse skool verduister het, se voertuie en woonwa word nou deur die staat bewaar.

Die hooggeregshof het die Valke en die NVG se aansoek goedgekeur om die betrokke bates hangende die ondersoek te bewaar. Die voertuie vorm deel van die ondersoek ná die beweerde verduistering van R4,6 miljoen by Hoërskool Kathu, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

In ’n afsonderlike saak het die Valke ook bewaringsbevele vir twee voertuie bekom wat aan ’n persoon van belang behoort wat na bewering Wesseliet van Johannesburg na die Kalahari vervoer en daarmee handel dryf.

Jessica Kuhn (43), ’n gewese finansiële administrateur by die skool, staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente. ’n Oudit wat in Oktober gedoen is, het glo finansiële onreëlmatighede by die skool aan die lig gebring.


Kuhn het glo afsonderlike private bankrekeninge geskep waarheen skoolgelde oorgeplaas is. Die geld het glo gewone skoolgeld en skenkings ingesluit, wat onder meer gebruik word om die salarisse van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is, te betaal.

“Sy het fiktiewe fakture geskep wat voorgegee het om van wettige skoolverskaffers afkomstig te wees, waarna betalings na haar private rekening en tot haar eie voordeel gemaak is,” sê Mnisi. Sy het na bewering ook oortydbetalings aan haarself toegestaan, ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied.

Kuhn is op 2 Julie by haar huis in Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad, saam met lede van die ernstige georganiseerde misdaad-eenheid, in hegtenis geneem.

Haar borgtogaansoek is op 7 Julie teengestaan nadat die Valke nuwe feite aan die hof voorgelê het, waarna borgtog geweier is. Sy sal na verwagting op 31 Augustus weer in die hof verskyn.

Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valke-hoof, sê die weiering van borgtog stuur ’n duidelike boodskap aan misdadigers wat skole vanuit vertrouensposisies teiken. “Ons skole is entiteite sonder winsoogmerk, maar verloor steeds aansienlike bedrae geld aan werknemers in hul finansiële kantore.”

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.