Central SA
Gemeenskap spoor driedubbele moordverdagte binne ure op─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:28 Thu, 27 Aug 2026
’n Gemeenskap het saamgespan om ’n man, wat van drie moorde verdink word, gou-gou aan die polisie te oorhandig.
James Mohajane (41) is Donderdag (27/8) omstreeks 09:30 deur inwoners van Moeka Vuma in Noordwes aan die polisie oorhandig. Dit in minder as 12 uur nadat ’n openbare waarskuwing oor hom uitgereik en sy foto versprei is, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.
Mohajane word gesoek in verband met die beweerde moorde op sy meisie, Moipone Lefoka, haar suster, Esther Lefoka, en Esther se kêrel, Tshepo Molekwa. Die drie slagoffers is glo die naweek by ’n huis in Moeka Vuma naby Makapanstad met ’n graaf doodgekap. Hul liggame is Sondag (23/8) gevind.
’n Intensiewe soektog is Woensdag begin nadat Mohajane as die verdagte geïdentifiseer is. Sy foto is wyd deur die polisie, media en sosiale media versprei. Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, loof die Moeka Vuma-gemeenskap vir hul waaksaamheid en samewerking.
“Ons gemeenskappe het weer gewys dat hulle ’n belangrike vennoot in die stryd teen misdaad is. Die vinnige reaksie van die Moeka Vuma-gemeenskap, tesame met die hulp van die media en sosiale media-gebruikers wat die verdagte se foto versprei het, het aansienlik daartoe bygedra om dié gesoekte verdagte in polisie-aanhouding te kry,” sê Dimpane.
Die polisie in die Noord-Kaap vra intussen ook die publiek se hulp om ’n man op te spoor wat moontlik met ’n moordsaak in Kimberley verbind kan word.

Die man wat as “Kayser” bekend staan. Foto verskaf
Kimberley se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad soek na ’n Lesotho-burger wat bekend staan as “Kayser”. Hy word moontlik verbind met die dood van ’n 18-jarige wat op Sondag 9 Augustus doodgesteek is, sê Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Enigiemand met inligting oor Kayser se moontlike verblyfplek word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Immanuel Jeffries, by 082 302 0407 te bel. Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-toepassing deurgegee word.
Die polisie beklemtoon dat alle inligting streng vertroulik hanteer sal word.
OFM Nuus sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
