On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ná twee dae steeds geen teken van vermiste Vaal-dominee

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Thu, 27 Aug 2026

Ná twee dae steeds geen teken van vermiste Vaal-dominee | News Article
Hendrik Fredrick (Hennie) Louw. Foto verskaf

Ná twee dae se intensiewe soektogte is daar steeds geen teken van ’n vermiste dominee van Vereeniging nie.

Hendrik Fredrick (Hennie) Louw (56), predikant van die Hervormde gemeente Drie Riviere, is sedert Dinsdag (25/8) omstreeks 07:00 vermis nadat hy sy seun by die skool afgelaai het. Sy voertuig is later verlate op die R59-brug oor die Vaalrivier gevind, waarna ’n uitgebreide soektog na hom begin is.


Ricus Potgieter, bedryfsbestuurder van Sekuriteit Sonder Grense, sê hulle was Dinsdag op die toneel waar die voertuig gevind is en het met behulp van ’n hommeltuig die gebied langs die rivier deursoek. “Ons het die area langs die rivier fyngekam om te kyk of ons enige tekens van hom sien.”

Die soektog na die dominee duur voort. Foto verskaf

Die span het Woensdag na die gebied teruggekeer, dié keer saam met Gautengse polisieduikers, wat die soektog onder die brug en in die rivier voortgesit het. “Die duikers se werk word bemoeilik deur talle boomstompe wat onder die water lê.”

Die gebied langs die rivier is gefynkam. Foto verskaf

Potgieter sê verskeie faktore kan bepaal hoe lank dit in die geval van ’n verdrinking kan duur voordat ’n liggaam na die oppervlak kom, soos die temperatuur. “Dit kan tussen drie en vyf dae neem.”


Die soektog het steeds geen resultate opgelewer nie, maar duur voort. Louw het groen oë, grys hare, ’n gemiddelde bou en weeg ongeveer 100 kg. Louw se vrou, Lizelle, sê sy weet tans nie meer as wat reeds bekend is nie. Sy weet ook nie wat gebeur het, wanneer dit gebeur het of waarheen haar man moontlik kon gegaan het nie.

Enigiemand wat Louw moontlik gesien het of inligting het wat kan help om hom op te spoor word versoek om Vereeniging se polisie by 016 450 2262 te bel. Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-app deurgegee word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.