On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse egpaar hoor dan of hulle teen vonnisse kan appelleer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:37 Thu, 27 Aug 2026

Vrystaatse egpaar hoor dan of hulle teen vonnisse kan appelleer | News Article
Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie. Foto: Charne van der Merwe

Die Vrystaatse egpaar wat aan meer as duisend aanklagte skuldig bevind is, sal Vrydag (28/8) hoor of hul aansoek om verlof tot appèl suksesvol was.

Daniel en Anna Francina Fourie sal in die Welkom-streekhof verskyn vir ’n beslissing oor hul aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse. Daniel is reeds meer as vier maande agter tralies.

Die egpaar is op 7 April aan meer as 1 150 aanklagte skuldig bevind, insluitend intimidasie, kwaadwillige saakbeskadiging, crimen injuria, laster en verwante misdrywe. Die saak spruit uit ’n jarelange vete met die broers Manny en José Jardim.

Van die graffiti wat oor die Goudveld heen gemaak is. Foto verskaf

Fourie het op 17 Augustus tydens ’n vorige hofverskyning met voetboeie by die hof aangekom. Hy is op 30 Julie tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, terwyl sy vrou tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis is. Die verrigtinge kon egter weens onvoorsiene omstandighede nie voortgaan nie.

Daniel Fourie in voetboeie  by die hof. Foto: Charne van der Merwe

Hoewel dit nooit in die hof bewys is nie, het adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, tydens die ses jaar lange hofsaak aangevoer Fourie se optrede hou moontlik verband met vermoedens oor die vaderskap van die egpaar se oudste seun. Ná bewering het hy ’n verbintenis met een van die klaers.

Die hof het Fourie vroeër gelas om ’n foto van die oudste kind in te handig. Fourie het in 2021 geweier om ’n DNS-toets te ondergaan om vas te stel of die kind biologies syne is. Fourie het vroeër aangevoer hy behoort vrygelaat te word.


Hy het daarop gewys dat hul gestremde seun sedert sy inhegtenisneming emosioneel sukkel en nie verstaan waar sy pa is nie. Simpson het egter aangevoer die egpaar het nie aan die gevolge vir hul seun gedink toe hulle die beweerde dade gepleeg het nie.

Die egpaar se dogter moes intussen haar studie tydelik staak om haar ma met die versorging van haar broer te help en verantwoordelikhede by die huis te hanteer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.