Central SA
Gesin byna uitgewis ná N12-ongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:46 Fri, 28 Aug 2026
’n Gesin van Noordwes is byna uitgewis nadat ’n pa en sy twee kinders in ’n ongeluk omgekom het.
Rudi Enslin (53) en sy kinders, Hannes (18) en Jessica (13), is Woensdag (26/8) op die N12 tussen Potchefstroom en Fochville dood. Nóg ’n persoon is ook in die ongeluk dood, maar die 48-jarige oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.
’n Saak van strafbare manslag word ondersoek ná die ongeluk waarin drie voertuie betrokke was, sê sers. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder. Enslin het een van die voertuie bestuur, met sy twee kinders as passasiers. Die bestuurder van die eerste voertuig het ongedeerd daarvan afgekom.
Die tweede voertuig is erg beskadig. ’n Insittende is op die toneel dood verklaar, terwyl ’n ander persoon beserings opgedoen en vir mediese behandeling na die hospitaal vervoer is. Die derde voertuig is ook erg beskadig, en Enslin en sy twee kinders is op die toneel dood verklaar.
Morake sê die omstandighede rondom die botsing word steeds ondersoek en die polisie sal die volgorde van gebeure wat tot die noodlottige ongeluk gelei het, probeer bepaal. Die polisie doen intussen ’n beroep op motoriste om versigtig te bestuur en alle padveiligheidsregulasies na te kom wanneer hulle die N12 gebruik.
Jessica was ’n leerder aan die Laerskool Baillie Park. “Ons Baillie-harte is diep seer oor hierdie tragiese verlies,” skryf die skool in ’n huldeblyk op sosiale media. Die skool betuig sy innige meegevoel met die Enslin-familie, hul geliefdes en vriende.

Rudi Enslin. Foto: Facebook
Rudi word intussen deur mense wat hom geken het, onthou as iemand wat sy geloof en liefde vir ander uitgeleef het. Iemand wat hom langer as 20 jaar geken het, sê aan OFM Nuus sy lewe was die perfekte voorbeeld van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. “Vra nie Wie is my naaste? nie, maar Vir wie kan ek ’n naaste wees?” lui die huldeblyk.
Geen begrafnisreëlings vir die Enslin-gesin is tot dusver in die openbaar bekend gemaak nie. Nadere besonderhede oor die afskeid sal na verwagting later deur familie of betrokkenes gedeel word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
