Central SA
Upington-inwoners al vyf dae sonder water─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Fri, 28 Aug 2026
Terwyl inwoners van Upington al byna ’n week sonder water sit, het die munisipaliteit die strate ingevaar om inwoners aan te moedig om water te bespaar.
Die Dawid Kruiper-munisipaliteit sê huishoudings kan water bespaar deur lekkasies reg te maak, korter te stort en nie die kraan te laat loop terwyl tande geborsel of geskeer word nie. Intussen duur die wateronderbreking in dele van Upington al vyf dae voort.
Munisipale leierloosheid is die rede waarom inwoners van Upington se middedorp en woongebied Die Rand vandeesweek vir die soveelste keer dae lank sonder water is, sê Hennie Roux, VF Plus-raadslid,
“Die pypnetwerk wat dié gebied bedien, bars aanhoudend. Hierdie waternetwerk voed ook woongebiede buite die dorp, wat as gevolg van brekasies voortdurend min of geen water beskikbaar het nie. Die middedorp en Die Rand ly egter die meeste.”
Roux wys daarop die munisipaliteit se tegniese afdeling is sonder ’n direkteur vir tegniese dienste nadat die tweede direkteur binne twee jaar bedank het. “Die ANC-beheerde munisipaliteit het in ’n onlangse verslag aangedui dat waterverliese in Mei 2026 op 45,1% gestaan het.”
Dit is onaanvaarbaar dat groot hoeveelhede water verlore gaan nadat dit teen ’n aansienlike koste uit die rivier onttrek en gesuiwer is, sê hy. “Inwoners betaal die prys vir die onbevoegdheid deur hoë tariewe en gereelde watertekorte.”
Die munisipaliteit moes die verouderde waternetwerk met die jare stelselmatig vervang het, maar dit het nie gebeur nie. Duisende liter water vloei glo daagliks uit gebarste pype deur die strate.
Henk Opperman, DA-raadslid, sê ’n wateronderbreking van vyf dae is nie normale dienslewering nie, maar ’n ernstige diensleweringskrisis. “Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om waterdienste te lewer en, wanneer ’n onderbreking langer as 24 uur duur, redelike stappe te doen om alternatiewe watervoorsiening beskikbaar te stel.”
Daar is begrip daarvoor dat pype kan breek. “Maar wanneer pype aanhoudend bars, wanneer ’n hele sakekern vir dae sonder water gelaat word en wanneer inwoners en besighede geen behoorlike terugvoer van senior bestuur ontvang nie, gaan dit nie meer net oor ’n gebreekte pyp nie. Dit gaan oor bestuur, beplanning en aanspreeklikheid.”
Die DA sal ’n formele skriftelike navraag aan die munisipaliteit en die verantwoordelike portefeulje indien. Die party wil onder meer weet wanneer die brekasie aangemeld is, wanneer werkopdragte uitgereik is, wanneer herstelwerk begin het, waarom verdere brekasies plaasgevind het en watter noodmaatreëls ingestel is.
Die DA wil ook inligting hê oor die hoeveelheid water wat tydens die onderbreking aan die gebied verskaf is, kommunikasie met inwoners en besighede, asook die munisipaliteit se wateronderhoud- en infrastruktuurplan.
“Indien die munisipaliteit nie behoorlik op die navraag reageer nie, sal die DA ’n formele skriftelike klagte by die departement van water en sanitasie indien,” sê Opperman.
OFM Nuus het navrae aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit gerig.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

