Central SA
Rouxville-boer weer as Lamb Champs-kampioen gekroon─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:48 Mon, 31 Aug 2026
“As jy skaapvleis eet en nie op jouself mors nie, weet jy sommer jy het nie lekker geëet nie.”
So meen Paul van Rooyen van Rouxville ná sy oorwinning in vanjaar se Lamb Champs-kompetisie nadat hy vir die tweede keer as kampioen gekroon is. Hy het Saterdag (29/8) met sy Meatmaster-lam die eerste plek behaal.
Meer as 3 000 belangstellendes het op die die Toyota-stadion toegesak vir die eerste Lamb Champs-kompetisie in Bloemfontein. Altesaam 62 boere het elk ’n skaap vir die kompetisie beskikbaar gestel.
Beoordeel
Die skape is deur studente en sjefs van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se kulinêre skool voorberei en op die spit gebraai. Terwyl die vleis deur die loop van die dag stadig gaar geword het, kon honger feesgangers die verskillende spitte besoek en van die vleis proe.
’n Paneel beoordelaars het die lammers volgens hul gehalte beoordeel. Toe die tyd aanbreek om die wenner aan te kondig, was dit ’n bekende naam in Lamb Champs-kringe. Van Rooyen het weer eens koning gekraai. Drie jaar nadat hy in 2023 die titel verower het, is hy vanjaar vir die tweede keer as Lamb Champs-wenner gekroon.
Die tweede oorwinning is vir hom ’n besondere voorreg en ’n emosionele oomblik, vertel Van Rooyen. “Hierdie wen is ’n voorreg. Dis nie elke dag wat ons so twee keer wen nie.
“Dit beteken baie vir my persoonlik om hier te wen. Dis ’n baie emosionele gevoel. Dit help ’n mens in die lewe en is ’n lekker hupstoot en wys al jou werk is nie verniet nie.”
Hy dra die oorwinning aan sy pa op, wat volgens hom die skape mooi versorg het. “Ek gee hierdie wen aan my pa, want hy’t hulle versorg. Hy’t hulle mooi versorg, so ons weet sy versorging is reg. Hy kan net aangaan soos hy gedoen het.”
Van Rooyen het ook ’n boodskap aan ander boere. “Daar’s die toekoms vir almal. Jy moet maar moed hou en geduld hê met jouself, en jy moet baie vertroue hê in wat jy lewer, dat dit suksesvol is vir die mense vir wie jy dit lewer.”
Hendri Punt en Jess Kriel van Dewetsdorp het die tweede plek behaal en sê die uitslag het hulle heeltemal onverwags gevang. “Ons is ongelooflik trots op ons prestasie en dit was werklik ’n ongelooflike geleentheid om deel te kon wees daarvan. Ons hoop om in die toekoms weer aan die kompetisie deel te neem.”
Janri Brits, ’n boer naby Winburg, het die derde plek behaal nadat sy vir die eerste keer aan Lamb Champs deelgeneem het. “Ek was baie verras gewees dat ek ’n plek behaal het. Ek het vir die eerste keer ingeskryf en toe kry ek derde plek, en dit was regtig vir my so ’n groot seën en ’n groot verrassing gewees.”
Die prestasie het haar nuwe moed en ywer vir haar boerdery gegee, vertel sy. “Vir elke persoon agter die skerms wil ek net baie, baie dankie sê vir hulle liefde en ondersteuning. Ek waardeer dit regtig baie.”

Janri Brits. Foto Charne van der Merwe
Die Lamb Champs-kompetisie in Bloemfontein is een van drie streekkompetisies in die land, met die ander twee wat in Pretoria en die Boland aangebied word. Die wenners van die drie streke sal Suid-Afrika in Oktober teen die beste skaapboere van Namibië verteenwoordig.
Intussen het Hannes Jordaan van Bloemfontein Saterdag met die louere weggestap in die skaapkop-eetkompetisie wat as deel van Lamb Champs aangebied is.
Jordaan het ’n skaapkop binne slegs twee minute en ses sekondes so kaal as moontlik geëet en ook ’n 500 ml-bier klaargemaak. Hy moes daarna die leë bierblikkie op sy kop plaas om te wys dat hy klaar is.

Hannes Jordaan. Foto Charne van der Merwe
Skaapkop is vir hom geen probleem nie aangesien hy van kleins af met afval grootgeword het. “Ek het as kind grootgeword met afval eet. Dit was ons Sondagmiddag-ete, met ’n poedingtjie agterna, so skaapkop was nie vir my ’n probleem nie.”
Hy het ook inspirasie uit ’n TV-program gekry waarin iemand groot hoeveelhede kos vinnig eet. “Ek het gesien hoe hy dit eet, so ek het dit toegepas en dit werk honderd persent.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

