Central SA
Voorslagkamp wys weer Voortrekkers se waarde vir kinders─── SUSAN MARÉ 09:49 Wed, 02 Sep 2026
Die Voortrekkers se 95ste bestaansjaar word einde vandeesmaand in die Vrystaat gevier met die onthulling van ’n spesiale monument op die beweging se plaas Doornkloof in die Lindley-distrik.
Die organisasie, wat op 30 September 1931 gestig is, staan nie net sterk in die Vrystaat nie, maar dwarsoor die land, Namibië en selfs in Nieu-Seeland. “Die tema en boodskap van die vieringe op 30 September is dat die Voortrekkers ligdraers moet wees,” sê Willie Engelbrecht, Vrystaatse gebiedsleier.
Die belangrike rol wat die organisasie speel in die opvoeding van kinders is pas weer gedemonstreer met ’n suksesvolle Voorslagkamp vir lede op die geskiedkundige plaas Doringkloof.
Annemie Bosman, adjunkgebiedsleier in die Vrystaat en offisier by die Jordania- en die C.R. Swart-kommando op Bethlehem, was by die kamp betrokke die naweek van 28 Augustus.

Karin Stoffberg, hoofleier van Die Voortrekkers, en Annemie Bosman, adjunkgebiedsleier vir Penkoppe en Drawwertjies asook offisier van die Jordania- en C.R. Swart Kommando in Bethlehem. Foto verskaf
“Voortrekkers kan uitgeken word tussen ander kinders,” sê sy. “Hulle tree net anders op en leer soveel lewenswaardes en kennis wat hulle lewenslank sal kan gebruik.”
Altesaam 163 gr. 7-kinders van die Vrystaat asook kinders van George en Gauteng het die kamp bygewoon.
Die Voorslagkamp is ’n gespesialiseerde en hoog aangeskrewe evalueringskamp. Dit verteenwoordig die hoogste toekenning wat ’n laerskoollid in dié jeugorganisasie kan verwerf.
Die toekenning toets en bekroon die praktiese vernuf, leierskap en kennis wat die jeuglede, Penkoppe en Drawwertjies genoem, in hul laerskoolloopbaan opgebou het.

Lede van die Orion-kommando op Vanderbijlpark op pad na Doornkloof. Foto verskaf
Om dit juis op Doornkloof te kan doen is vir die kinders spesiaal omdat dit die Voortrekker Sarel Cilliers se plaas was. Doornkloof se plaasopstal is nog dié van Sarel Cilliers en hy is ook op die plaas begrawe.
Die Sarel Cilliers-museum, die Trekkerspoor-staproete en die Bybelmonument en ander gedenktekens op die terrein maak die geskiedenis hier lewendig. Die grond met pragtige natuurskoon word ook as ’n kultuur- en wildplaas bedryf. Die plaas het in 2019 sy 80ste bestaansjaar gevier.
Die Vrystaat-gebied van Die Voortrekkers word bestuur deur ’n span adjunkgebiedsleiers wat vir verskillende portefeuljes verantwoordelik is.

Aan die einde van die kamp op Doornkloof is die naweek afgesluit met ‘n parade. Foto verskaf
Die Vrystaatse gebiedsleier is Willie Engelbrecht van Bloemfontein. Bosman is die adjunkgebiedsleier vir Penkoppe en Drawwertjies en sy fokus op laerskoollede en die Voorslagkamp-kandidate.
Nog adjunkgebiedsleiers is Thian Heyns (Verkenners), Jan van der Walt (volwasse sake en bemarking), Marietjie van der Walt (finansies) en Tristan Visser (gebiedsekretaris). Karen Stoffberg is die hoofleier van Die Voortrekkers.
Bosman is sedert 2003 by Die Voortrekkers op Bethlehem betrokke en sê dit is vir haar ongelooflik om ’n verskil in kinders se lewens te help maak.
“Die kamp wat pas op Doornkloof aangebied is, was om die lede se laerskoolloopbaan af te sluit. Die kinders is getoets volgens hulle werk en kennis van gr. 4 tot gr. 7. Alles is ontspanne aangebied. Die gr. 7’s kry ’n vraestel met kaartjies of keusevrae oor sang, speletjies, situasies en seremonies.

Esmaré Dietrichsen en Amri Potgieter het die Voorslagkamp by Doornkloof geweldig geniet. Hulle is van die Primêre Skool Truida Kestell in Bethlehem en kom van Clocolan. Foto verskaf
“Hulle word ook getoets oor onderwerpe soos ‘Ek as Voortrekker’, ‘Ek as mens’, Voortrekkerdrag en Voortrekker wees. Nog toetsonderwerpe is ‘Ek en my omgewing’ en ‘Ek as Afrikaner en landburger’.
Annemie sê dit was soos altyd ’n kamp van baie lag, samesyn as offisiere wat al familie is – en, natuurlik, min slaap.
Mense besef nie hoe belangrik Die Voortrekkers vir die jeug is nie. “Hier word nie na skoolpunte gekyk of wie en wat jy is nie. Hier word jy as mens aanvaar soos jy is. Dit is vir ons belangrik om die kinders trots te maak op hul taal en kultuur, om hulself te leer ken en om diensbaar te wees as Afrikaners, positiewe burgers van die land en as Christene.”
Sy bedank ouers wat hul kinders die geleentheid bied om deel van Die Voortrekkers te word, omdat dit so belangrik is vir hul opvoeding. “Alles word nie meer in die skole geleer nie en dit is belangrik dat ons veral die geskiedenis laat voortleef vir die volgende geslagte.”
Die hoogste prestasie vir ’n gr. 12-Verkenner is om ’n Presidentsverkenner-eksamen af te lê. Dit is ’n prestigeryke nasionale sertifikaat en die kroon op twaaal jaar se kulturele leierskap, diens en praktiese opleiding.
Alle kinders van gr. R tot gr. 12 word uitgenooi om by Die Voortrekkers aan te sluit, waar hulle ookal woon, solank daar ’n aktiewe Voortrekker-beweging is. Die Gebiedskantoor kan vir navrae gebel word by 072 651 0394.
Engelbrecht, van Bloemfontein, sê die Voortrekkerbeweging staan sterk in die Vrystaat en vir lede is dit ’n vreugde om betrokke te wees.
“Ons is dankbaar dat ons ’n verskeidenheid aktiwiteite en uitdagings aan die jeug van Suid-Afrika kan bied.
“My boodskap aan al die jong lede en hulle wat eens ’n Voortrekker was, is dat hulle ons leuse – Hou Koers – lewenslank sal dra en leef.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

