On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Eindfluitjie blaas vir Bloemfontein-netbalster: ‘Ek het geweet wanneer dit tyd is’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Wed, 02 Sep 2026

Eindfluitjie blaas vir Bloemfontein-netbalster: ‘Ek het geweet wanneer dit tyd is’ | News Article
Karla Pretorius. Foto verskaf

Ná 16 jaar, 125 wedstryde en onvergeetlike oomblikke op die netbalbaan, het die eindfluitjie eindelik vir een van Suid-Afrika se mees ervare verdedigers geblaas.

Karla Pretorius (36) van Bloemfontein het pas haar uittrede uit professionele netbal aangekondig nadat sy haar laaste wedstryd vir die Proteas tydens die Statebondspele in Glasgow gespeel het. Haar loopbaan was een van hoogtepunte en uitdagings en sy besef vandag dat netbal ook soms haar “saving grace” was.

“Ek het lank daaroor besluit. Dit was nie ’n emosionele besluit of een wat oornag geneem is nie. Ek het met my mentors gesels en ’n ingeligte besluit geneem,” sê sy.

Dit was eindelik tydens die onlangse Statebondspele in Glasgow, Skotland, waar sy die gevoel gekry het waarvoor sy lank gewag het. Pretorius was op 31 Julie in Suid-Afrika se laaste wedstryd teen Uganda op die plaasvervangersbank, nadat sy in die vorige wedstryd teen Engeland net 25 minute op die baan was.

Karla in aksie. Foto verskaf

Terwyl sy daar gesit het, het ’n oomblik van vrede oor haar gekom. Die eenvoudige besef dat die tyd aangebreek het om die volgende hoofstuk te begin. “Ek het geweet ek sal daai gevoel kry wanneer ek weet dit is tyd,” vertel sy.

Dit was ’n gepaste einde aan ’n loopbaan waarin Pretorius nie net haar liggaam nie, maar ook haar hart en siel in die sport gestort het. Sy het in 2016 vir Bath in Engeland gespeel en daarna geskiedenis gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat klubnetbal in Australië gespeel het.

Karla en haar man, Werner. Foto verskaf

Pretorius het sewe seisoene in 2021 vir Sunshine Coast Lightning gespeel en vroeër vanjaar ook die Vrystaatse Crinums as kaptein na die nasionale ligatitel gelei het. Maar tussen die hoogtepunte en prestasies was daar ook moeilike tye.

Sy het verlede jaar ’n breek van netbal geneem en moes sy hard werk om haarself weer op die baan te kry. Sy beskryf dié tyd as een van die moeilikste periodes van haar loopbaan; fisiek was sy op ’n laagtepunt en emosioneel was sy “op ’n baie slegte plek”.

En tog was dit juis daar waar netbal vir haar ’n groter betekenis gekry het. “Netbal was my saving grace op daai oomblik,” sê sy.


Sy het teruggeveg, haar fiksheid opgebou en vir die eerste keer in haar loopbaan moes sy werklik baklei om haar plek in die Proteaspan terug te verdien. Dat sy dit reggekry het, is iets waarop sy met groot trots terugkyk.

“Ek was die onfiksste wat ek nog ooit in my loopbaan was,” sê sy. “Die feit dat ek kon terugveg en van niks af weer myself kompeterend kon maak deur harde werk en wonderlike mense om my en die regte houding, het ek gewys dat dit nodig was.”

Een van die mees besonderse oomblikke van haar loopbaan het gekom tydens die Wêreldbeker 2019. Suid-Afrika het vir die eerste keer in jare die halfeindronde gehaal, nadat die Proteas Jamaika in ’n belangrike wedstryd geklop het, ’n oorwinning waarvoor die span twee jaar lank gewerk het.

Pretorius is later as speler van die toernooi aangewys, maar vir haar lê van haar kosbaarste herinneringe nie noodwendig in individuele toekennings nie.

Haar loopbaan was een van hoogtepunte en uitdagings en sy besef vandag dat netbal ook soms haar “saving grace” was. Foto verskaf

Haar honderdste wedstryd vir Suid-Afrika tydens die Wêreldbeker 2023 op eie bodem staan uit veral omdat haar familie en haar dogtertjie, Kara, daar kon wees om dit saam met haar te beleef.

Haar dogtertjie het ’n groot deel van haar ma se loopbaan saam gereis. Pretorius het haar so dikwels as moontlik saamgeneem. Nou wag daar eindelik meer tyd as gesin saam by die huis. “Hopelik is ek nou ’n bietjie minder weg van die huis,” sê sy.

Hoewel haar speelloopbaan verby is, beteken dit nie dat Pretorius van netbal afskeid neem. Sy het reeds vir die afgelope vier jaar in verskillende afrigtingstrukture betrokke geraak en begin nou ’n nuwe hoofstuk as hulpbreier van die Kovsies in die Varsitybeker-reeks en sal volgende jaar weer daardie rol by die Crinums vertolk.

Karla sien uit om nou meer by die huis by haar gesin te wees. Foto verskaf

Haar doel is nie bloot om die volgende geslag beter netbalspelers te maak nie, maar om mense te ontwikkel. “Bitter min kinders gaan dit elite maak eendag. Maar wat ek kan doen, is om hulle as goeie mense in die wêreld in te stuur.”

Wanneer Pretorius terugkyk, hoop sy mense onthou haar nie bloot vir die 125 keer wat sy die Protea-trui aangetrek het, haar wêreldbeker-prestasie of die talle medaljes en toekennings nie. Sy wil onthou word as iemand wat die mense rondom haar beter gemaak het.

Karla gaan nou fokus op afrigting. Foto verskaf

“Ek hoop hulle sien my as iemand wat rêrig die mense om my beter gemaak het,” sê sy. “My loopbaan moet getuig van lojaliteit, harde werk en uitnemendheid van iemand wat nooit bang was om daardie ekstra myl te stap nie. Ek het 100% gegee en ek stap met tevredenheid en dankbaarheid van my speelloopbaan weg,” sê Pretorius.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.