Central SA
Polisie soek ‘beamptes’ ná vrou in Bethlehem glo uit geld bedrieg is─── MORNÉ VAN ROOYEN 13:30 Thu, 03 Sep 2026
Die polisie in Bethlehem soek verdagtes wat ’n vrou (66) glo oor twee dae met ’n uitgebreide bedrogspul geteiken het.
Die voorval het volgens die polisie tussen 6 en 8 Mei plaasgevind. Die vrou het op 6 Mei in die Bethlehemse middedorp gestap toe ’n vreemdeling teen haar vasloop en ’n middel aan haar arm smeer. ’n Tweede man het haar daarna oortuig dat sy die voorval by die polisie moes aanmeld.
Lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die vrou is toe na twee mense geneem wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Die verdagtes het saam met haar na die Bethlehem-polisiekantoor gery, haar in die voertuig laat wag en self die gebou binnegegaan voordat hulle kort daarna teruggekeer het.
“Die vrou het geen rede gehad om te vermoed dat sy bedrieg word nie. Die verdagtes het doelbewus die indruk geskep dat hulle met ’n amptelike polisieproses besig is,” sê Covane.
Die bedrogspul het in Bethlehem se middedorp plaasgevind. Foto: JMK/Wikipedia
Hulle het haar daarna oortuig dat geld uit haar een rekening onttrek en ander geld na ’n sogenaamde veilige rekening oorgeplaas moes word.
Die groep het daarna na Reitz gereis, waar geld uit een rekening onttrek en ander fondse na die rekening oorgeplaas is wat volgens die verdagtes veilig sou wees. Hulle het later na Bethlehem teruggekeer, waar nog geld by ’n winkelsentrum onttrek is voordat die vrou uiteindelik huis toe gegaan het.
Die vrou het op 8 Mei agtergekom dat die geld wat na die sogenaamde veilige rekening oorgeplaas is, ook onttrek is. Sy het toe besef dat sy bedrieg is en ’n saak van bedrog by die Bethlehem-polisiekantoor aanhangig gemaak. Die polisie het daarna met die ondersoek na die verdagtes begin.
Een van die verdagtes is ’n vrou wat haar glo as “kaptein Mokoena” voorgedoen het. ’n Gesigsidentifikasiekenner van die Bethlehemse plaaslike misdaadrekordsentrum het intussen ’n skets van haar saamgestel in die hoop dat lede van die publiek haar kan uitken en die polisie met die ondersoek kan help.
Covane sê die polisie hoop iemand sal die vrou of ander mense wat by die bedrogspul betrokke was, herken. “Enige persoon met inligting oor die voorval of wat die vrou op die skets herken, word gevra om die ondersoekbeampte so gou moontlik te kontak.”
Inligting kan aan ao. Nicolaas Stander by 082 443 3627 verskaf word. Mense kan ook die MySAPS-app gebruik, Stop Misdaad by 08600 10111 bel of inligting by enige polisiekantoor aanmeld.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

