Central SA
Vrystater byna ’n week vermis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:42 Sat, 05 Sep 2026
Die polisie in die Vrystaat vra die publiek se hulp om ’n vermiste man op te spoor.
Letshabo Mareka (32) is die laaste keer Sondag (30/8) omstreeks 10:30 by sy huis in Thabana gesien terwyl hy besig was om te gaan bad. Die omstandighede van sy verdwyning is onduidelik, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Mareka se oom was die laaste persoon wat hom gesien het voordat hy verdwyn het. ’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak. maar hy kon nog nie opgespoor word nie.
Mareka was, voor hy verdwyn het, net in ’n blou chino-broek geklee, sonder 'n hemp of skoene.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help in die ondersoek kan die Thabong-polisie by 082 848 8120 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
Geen wagtydperk
Die Vrystaatse polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk voordat ’n persoon as vermis aangemeld kan word nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms.
Daar is stappe wat naasbestaandes kan doen om die proses vinniger aan die gang te kry: Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
Indien persoon gevind is
Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
