On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Organisasies is bekommerd oor brandstofstygings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:31 Sat, 05 Sep 2026

Organisasies is bekommerd oor brandstofstygings | News Article
Brandstofpryse het weer gestyg. Foto: iStock

Hoe lank kan Suid-Afrikaners nog die stygende brandstofpryse absorbeer? Waarom word die brandstofheffing nie hersien om dié druk teverlig nie?

Suid-Afrikaners moes sedert Dinsdag (2/9) om middernag dieper in die sak delf nadat petrol met R1,34 per liter en diesel met tussen R2,94 en R3,15 per liter gestyg het. Die jongste styging het hernude oproepe ontlok vir groter verligting op brandstofpryse en ’n ondersoek na die heffings wat ’n aansienlike deel van die brandstofprys uitmaak.

AfriForum het ’n brief aan Enoch Godongwana, minister van finansies, gerig waarin hy ’n onafhanklike oudit van die brandstofprys en -heffings eis. Dit sluit in die algemene brandstofheffing, koolstofbrandstofheffing en Padongeluksfonds se heffing.

Die burgerregteorganisasie vra ’n ondersoek moet gedoen word oor hoe die verskillende heffings bereken en toegepas word, waarvoor die geld aangewend word en hoe doeltreffend dit gebruik word. Die ekonomiese impak daarvan op verbruikers, vervoeroperateurs, die landbousektor en klein ondernemings moet ook ondersoek word. 


AfriForum het reeds in Junie gevra die tydelike verlaging van die algemene brandstofheffing moet permanent gemaak of minstens aansienlik verleng word. Oliepryse het sedertdien hoog gebly en die wêreldwye energiekrisis het nie verdwyn nie.

Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, sê die organisasie se waarskuwing oor die vertraagde impak van hoë brandstofpryse het nou ’n werklikheid geword. 

Ekonomie

“Dit bly die regering se verantwoordelikheid om huishoudings en die ekonomie so doeltreffend moontlik teen wêreldwye skokke te beskerm en nie bloot die impak daarvan vir ’n paar maande uit te stel nie.

“ ’n Soort belasting wat ’n groot deel van die brandstofprys uitmaak behoort behoorlik onder die loep geneem te word om moontlike langtermynhervormings te ondersoek.”  

Die vakverbond Cosatu meen die tydelike opskorting van die brandstofheffing vroeër vanjaar het belangrike verligting aan werkers en die ekonomie gebied en gehelp om inflasie se druk te beperk.

Albei organisasies vra groter verligting met die herinstelling van die brandstofheffingsverlaging as een van die voorgestelde oplossings. AfriForum sê die hele struktuur van brandstofheffings moet behoorlik ondersoek word om te bepaal of langtermynhervorming nodig is.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.