On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Parkeerterrein-moord: Drie staatsgetuies steun selfverdediging-verweer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:26 Tue, 08 Sep 2026

Parkeerterrein-moord: Drie staatsgetuies steun selfverdediging-verweer | News Article
Wernich Botha verskyn in die hof op aanklag van moord op Hilton Pretorius. Foto: Charne van der Merwe

“Hoekom moet hy getuig?” vra die verdediging van ’n Noordwes-man nadat drie staatsgetuies getuig het hy het uit selfverdediging opgetree.

Die Klerksdorp-streekhof moet Vrydag (11/8) besluit of die staat genoeg bewyse voor die hof geplaas het om Wernich Botha (34) verder te vervolg. Botha se aansoek om ontslag ingevolge art. 174 van die Strafproseswet volg nadat die staat sy saak Dinsdag (1/8) gesluit het.

“Maandag (7/8) se aansoek kan die einde van die saak beteken indien die hof bevind daar bestaan geen redelike moontlikheid van ’n skuldigbevinding op die getuienis voor hom nie,” sê Kobus Burger, sy regsverteenwoordiger.

Botha word aangekla van die moord op Hilton Pretorius (32) en poging tot moord op PW Roos. Die aanklagte spruit uit ’n voorval op 2 September 2023 in die parkeerterrein van die Cadillac’s 60’s Pub op Klerksdorp.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe (née Fischer). Foto: Facebook

’n Enkele hou het ’n bepalende faktor in die saak geword. Botha het volgens die getuienis vir Pretorius en Roos elk een keer geslaan, waarna Pretorius breinbloeding opgedoen het en 18 dae later aan akute respiratoriese noodsindroom oorlede is.

Botha se verweer is dat hy nie die konfrontasie gesoek het nie, maar homself verdedig het toe Pretorius hom na bewering dreigend genader het. Die oorledene het menige dreigende boodskap deur die loop van die dag aan Botha gestuur. Hy het hom met geweld gedreig en gesê hy gaan vir hom kom.

Bedreiging

Adv. Hennie du Plessis het aangevoer dis belangrik is om te verstaan waarom Botha bedreig kon gevoel het.

Die hof het vroeër gehoor die voorval het ontstaan nadat Botha sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), saam met Pretorius in die bed in haar huis betrap het. Tydens die verhoor in Mei het Natasha getuig Botha het onverwags op 1 September uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis gekry.

Wernich Botha word daarvan beskuldig dat hy Hilton Pretorius (32) vermoor het. Foto: Charne van der Merwe

Volgens die verdediging het die spanning dus nie by die kroeg begin nie. Du Plessis het aangevoer dat Pretorius en sy vriend, Pieter Joubert, saam by die kroeg opgedaag het en gesê het dat Botha nie kon wag totdat hy fisiek getref word voordat hy op ’n dreigende aanval reageer nie. Pretorius het kort voor die vuishou op Botha afgestorm.

Die verdediging se weergawe steun daarop dat Botha nie ná die enkele hou aangehou het om geweld te gebruik nie. Die staat se saak is egter dat Botha wel die persoon was wat die hou toegedien het en dat Pretorius hom nooit tydens die voorval geslaan het nie.

Caswell Ntoyi, aanklaer, het aangevoer die beeldmateriaal wys hoe Botha en Pretorius na mekaar beweeg. Hy voer aan dat daar dus genoeg getuienis is om ’n prima facie-saak te vorm dat Botha se optrede onregmatig was.

Ntoyi het ook aangevoer selfverdediging kan nie bloot bepaal word deur wat ander mense gedink het nie. Dit gaan juis oor Botha se gemoedstoestand op die oomblik toe hy Pretorius geslaan het – iets wat die beskuldigde self aan die hof kan verduidelik.

Du Plessis het egter gesê die staat se eie getuies het reeds belangrike getuienis oor die dreigende situasie en Botha se beweerde vrees vir ’n aanval gelewer. 

Drie van die staatsgetuies het getuig dat die beskuldigde die oorledene uit selfverdediging geslaan het. Dit is daarom onduidelik waarom die beskuldigde self oor die voorval moet getuig.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.