Central SA
Staat trek verkragtingsaak teen Vrystater terug─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:44 Wed, 09 Sep 2026
’n Bloemfonteiner is verlig nadat die staat Woensdag (9/8) ’n seksuele aanrandingsaak teen hom teruggetrek het.
Die 43-jarige het sy derde verskyning in die stad se landdroshof gemaak. Hy het tereg gestaan op ’n aanklag van verkragting. Die saak is in Augustus uitgestel sodat die staat met die klaagster kon konsulteer.
Die beskuldigde, wie se naam nie genoem kan word nie omdat hy nog nie gepleit het op die klag nie, was Woensdag baie gespanne buite die hof. Hy het aan OFM Nuus gesê die klag was baie onverwags en hy het dit glad nie voorsien nie. Hy wou nie veel oor die situasie uitwy nie, maar sê hy en die klaagster het mekaar nie baie lank voor die voorval geken nie.
Twee dae later in hegtenis
Die klaagster (45) en hy het mekaar glo in ’n kuierplek ontmoet, waar hulle tyd saam deurgebring en telefoonnommers uitgeruil het. Hulle het daarna kontak behou en volgens die klagstaat ooreengekom om mekaar op 30 Junie weer by dieselfde kroeg te ontmoet.
Die vrou beweer hulle het later die aand na die beskuldigde se woning gegaan, waar die beweerde verkragting plaasgevind het. Sy het die volgende dag ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, waarna die beskuldigde op 2 Julie in hegtenis geneem en op 6 Julie op borgtog van R1 000 vrygelaat is.
Die man sê hy en die vrou het ná daardie aand nie weer kontak gehad nie en dat hy twee dae later in hegtenis geneem is.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger sê die rede vir die terugtrek van die saak is nie duidelik nie. “Ons het geen besonderhede gekry oor hoekom die staat besluit het om die saak terug te trek nie. Ons is net bly hulle het.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

