Central SA
Tiener se lewe verander oornag ná ernstige bloedsiekte-diagnose─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:09 Thu, 10 Sep 2026
Die lewe van ’n Bloemfonteinse tiener het binne dae verander nadat ‘n ernstige en seldsame bloedsiekte by hom gediagnoseer is.
Ernstige aplastiese anemie, ’n toestand waarin die beenmurg nie genoeg van die nodige bloedselle produseer nie, is op 27 Desember by SJ de Klerk (17) gediagnoseer. Sedertdien word hy weekliks by Mediclinic Bloemfontein opgeneem vir bloed- en plaatjie-oortappings omdat sy beenmurg nie hierdie selle self kan vervaardig nie.
Hoewel hy aanvanklik van Januarie tot Julie met immuunonderdrukkende terapie behandel is, was dié behandeling onsuksesvol. Die volgende stap, en nou sy enigste opsie – is ’n beenmurgoorplanting, sê Alisjé de Klerk, sy suster.
Die gesin soek nou ’n geskikte skenker vir SJ, waarna verdere reëlings vir die oorplanting getref sal word. Die behandeling sal by Netcare Pretoria-Oos-hospitaal, wat in oorplantings spesialiseer, plaasvind op aanbeveling van SJ se dokters. Hy sal ná die oorplanting ook vir ongeveer drie maande naby die hospitaal moet bly sodat hy fyn dopgehou kan word.
SJ se mediese fonds het tot dusver sy opnames en behandeling gedek, maar die gesin begin nou probleme met beskikbare fondse ondervind en is bekommerd dat nie al die nodige toekomstige behandeling gedek sal word nie. Die gesin het daarom ’n geldinsamelingsveldtog begin om te help met SJ se huidige behandeling, reis- en verblyfkoste, asook die uitgawes wat met sy oorplanting gepaard gaan.
Omdat chemoterapie en bestraling ook deel van sy behandeling kan wees, moet die gesin reeds vooruit beplan vir sy toekoms, insluitend ’n eenmalige koste en maandelikse bergingsgelde vir toekomstige vrugbaarheidsbewaring – ’n voordeel wat nie deur sy mediese fonds gedek word nie.

SJ saam met sy ouers, Elsjé en Kallie, en sy suster, Alisjé. Foto verskaf
SJ was voor sy diagnose ’n aktiewe tiener wat lief was vir fietsry, motorfietsry, swem, trampolienspring en om meganiese goed reg te maak. Hy kan egter nou nie meer lank op sy voete wees nie, raak vinnig moeg en moet gereeld skool mis weens sy hospitalisasies.
“Dit is maar sleg, maar ek doen wat ek moet om gesond te word en fokus op my skoolwerk terwyl ek wag vir die oorplanting,” sê SJ. “ ’n Mens ken jou liggaam en as iets nie reg voel nie, maak eerder seker dis nie iets ernstig nie. Ek het geen idee gehad dat ek so ’n ernstige siekte sal hê toe ons uitgevind het nie.”
Hy hoop om ná die beenmurgoorplanting weer ’n gesonde en normale lewe te kan lei.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
