On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-gemeenskap vat hande vir kinderkankerbewusmaking

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:07 Thu, 10 Sep 2026

Noordwes-gemeenskap vat hande vir kinderkankerbewusmaking | News Article
Liam Jacobs. Foto verskaf

September is kinderkankerbewusmakingsmaand en die Sannieshof-gemeenskap is gereed om hande te vat om hoop te bring aan gesinne wat daardeur geraak word.

Die Sannieshof-gholfklub bied op 26 September ’n gholfdag en 5 km-kankerwandeling aan met die doel om tussen R20 000 en R30 000 in te samel. Die organiseerders hoop egter om dié bedrag te oorskry.

Die geld sal verdeel word tussen Reach for a Dream Foundation en Cupcakes for Kids with Cancer, sê Lizae Visser, organiseerder. “Ons wil graag behandeling, navorsing en bewusmaking oor kinderkanker en kanker in die algemeen ondersteun.”

Die gholfdag begin om 07:30 vir 08:00 en word in die formaat van ’n vierbal-Amerikaanse scramble aangebied. Die baan kan ’n maksimum van 64 spelers akkommodeer. Die organiseerders hoop om minstens 50 spelers te lok. Deelnemers word ook aangemoedig om geel te dra as deel van die bewusmakingsveldtog.

Vir dié wat eerder wil stap of hardloop, begin die 5 km-kankerwandeling om 07:00. Deelname kos R50 vir volwassenes en R20 vir kinders jonger as 12, en volgens Visser is die geleentheid op die hele gesin gemik.

Deelnemers kan stap of hardloop, terwyl kinders met skopfietse en fietse kan deelneem. Honde is ook welkom. Verskeie aktiwiteite en stalletjies word ook aangebied, waaronder kos en geskenke, ’n springkasteel, zipline en speelpark vir kinders.

’n Shavathon sal ook deel van die dag wees, waar mense hul hare kan laat afskeer, verf of skenk. Die stalletjie word deur gekwalifiseerde haarkapper Bianca Visser van Demension Cut behartig.

“Die dag gaan egter oor meer as net fondsinsameling. Ons wil ook bewustheid skep oor kanker en die impak wat die siekte op pasiënte en hul geliefdes het. Jonk en oud is ongelukkig in die spervuur.”

Die gemeenskap sal ook die geleentheid kry om erkenning te gee aan kankervegters, -oorwinnaars en “-engele”. Mense kan foto’s van geliefdes wat deur kanker geraak is, op ’n gedenkmuur plaas.

Vir Liam Jacobs se gesin het die inisiatief besondere betekenis. Die sesjarige het ’n ernstige stryd teen kanker gevoer en is tans in remissie. Hy kan weer net sy kinderjare geniet deur te speel, te lag en skool toe te gaan.


Hoewel sy intensiewe behandeling klaar is, is opvolgskanderings, terapie en die langtermyngevolge van sy behandeling steeds deel van die gesin se daaglikse lewe, sê sy ma, Suné Jacobs. “Hy bly ons klein wonderwerk en ons is baie dankbaar vir hoe ver hy gekom het.”

Een van die grootste uitdagings ná kanker is die onsekerheid wat voortduur, aangesien die gesin steeds van een skandering na die volgende leef. Sy sê die fondsinsameling beteken baie vir haar gesin omdat hulle eerstehands weet hoe belangrik ondersteuning is vir ’n gesin met ’n kind wat kanker het.

“Elke persoon wat deelneem, maak ’n verskil en dra by om hoop te bring.” Visser sê Liam het intussen ’n groot impak op mense in Sannieshof en omliggende gemeenskappe gehad en vir baie mense ’n simbool van hoop geword. “Liam is ’n bewys van hoop, liefde en van ’n groot en almagtige God wat wonderwerke kan verrig.”

Die organiseerders nooi ondernemings en individue uit om ook by die inisiatief betrokke te raak deur onder meer kontantbydraes, pryse of stalletjies te borg.

Hulle hoop om mense van alle ouderdomme bymekaar te bring en terselfdertyd die boodskap te versterk dat niemand wat deur kanker geraak word, alleen hoef te staan nie.

Bel Visser by 072 023 6356 vir meer inligting.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.