Central SA
Petisie begin oor haglike landbou-paaie in Douglas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:48 Fri, 11 Sep 2026
’n Landbougemeenskap in die Noord-Kaap is toenemend bekommerd oor die haglike toestand van belangrike grondpaaie wat daaglikse bedrywighede, vervoer en die plaaslike ekonomie ernstig raak.
’n Petisie is begin om dringende aandag te vra aan paaie wat volgens die gemeenskap al jare lank verwaarloos word. Die oproep is vir onmiddellike skraapwerk, herstelwerk en ’n volhoubare instandhoudingsplan, aangesien die paaie op plekke byna onbegaanbaar geword het.
Boere en ondernemings worstel met stygende vervoerkoste en word erg ontwrig, sê DA-raadslid Lemfvia van Niekerk van die Siyancuma-munisipaliteit.
“Gemeenskappe behoort nie uit hul eie sak te betaal om provinsiale paaie te gebruik en in stand te hou nie. Die MR809 tussen Douglas en Griekwastad, asook die aansluitende DR124- en DR3024-paaie, is in ’n onaanvaarbare toestand.
“Die paaie speel ’n belangrike rol in die vervoer van landbouprodukte en -toerusting en is van groot belang vir boere, plaaslike ondernemings en die breër ekonomie van die gebied.”
Ondanks herhaalde klagtes van die gemeenskap is daar glo min gedoen om die verval van die paaie te keer. Gemeenskapslede het selfs diesel aan die provinsiale regering geskenk sodat die paaie geskraap kon word, maar dit bied slegs tydelike verligting terwyl die toestand van die paaie steeds verswak.
'Die gemeenskappe behoort nie uit hul eie sak te betaal om provinsiale paaie begaanbaar te hou en in stand te probeer hou nie'
Van Niekerk sê die gemeenskap het in die afgelope vyf jaar meer as R1 miljoen bestee om onder meer die AP3024 begaanbaar te probeer hou. Die pad is meer as 30 jaar gelede laas behoorlik onderhou, terwyl pype onder die pad ná swaar reënbuie gereeld blootgelê word.
“Die swak toestand van die grondpaaie raak boere en ondernemings direk. Dit bemoeilik die vervoer van vee, oeste, landboutoerusting en ander noodsaaklike goedere en verhoog terselfdertyd die koste van landboubedrywighede.
“Besproeiingsboere betaal byvoorbeeld tot dubbel die normale vervoerkoste weens die toestand van die paaie. Die situasie ontwrig ook landboubedrywighede en plaas verdere druk op die plaaslike ekonomie en werksgeleenthede.”
Die party sê gemeenskappe behoort nie uit hul eie sak te betaal om provinsiale paaie begaanbaar te hou en in stand te probeer hou nie. Volgens die DA is dit die regering se verantwoordelikheid om die paaie dringend te herstel en ’n deurlopende instandhoudingsprogram in te stel.
“Die DA sal voortgaan om handtekeninge van boere, inwoners, besighede en ander mense wat deur die swak padtoestande geraak word, in te samel. Die petisie sal daarna aan die LUR vir paaie en openbare werke oorhandig word,” sê Van Niekerk.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

