Central SA
Kleuter ‘weer haar ou self’ ná operasie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:53 Tue, 15 Sep 2026
Van slapelose nagte en asemhalingsprobleme tot ’n gelukkige kleuter wat weer kan speel.
Byna drie weke nadat Novalee Wienand (3) se erg vergrote mangels en adenoïede verwyder is, is die verandering reeds duidelik. Voor die operasie op 27 Augustus het sy ses maande lank met ’n aanhoudende toe neus, seer keel, pyn en asemhalingsprobleme gesukkel.
Ná talle doktersbesoeke en verskeie behandelings is Novalee eindelik na ’n oor-, neus- en keelspesialis verwys, wat bevind het haar mangels en adenoïede was erg vergroot. Die operasie het goed afgeloop en daar was geen komplikasies nie, sê haar ma, Tarryn-Lee Wienand.

Novalee kan weer buite speel saam met haar maatjies. Foto verskaf
Novalee se gesondheidsprobleme het reeds vroeg in haar lewe begin. Sy was skaars twee weke oud toe sy weens ’n longinfeksie in ongevalle beland het. Sy het in haar eerste lewensjaar meer tyd in die hospitaal as tuis deurgebring.
Sy is later met asma en hipersensitiewe lugweë gediagnoseer en gebruik al byna twee jaar chroniese medikasie. “Die eerste week ná die operasie was egter baie moeilik. Novalee het gesukkel om te eet en te drink en was in baie pyn,” sê Wienand. Sedert 1 September is sy egter weer haar energieke ou self.
Die avontuurlustige “Miss Independent”, wat daarvan hou om buite te speel, in die water te wees en saam met haar gesin te gaan visvang, is terug.
Wienand sê die verbetering in Novalee se asemhaling is veral opvallend. “Haar neus is nou oop, sy het nie meer ’n aanhoudende loopneus nie en kan weer rondhardloop en met haar maatjies speel sonder om heeltyd huilerig te wees.”
Novalee in die hospitaal. Foto verskaf
Voorheen het sy omtrent elke twee uur wakker geword. Dit is nou iets van die verlede. “Omdat sy nie meer pyn het nie, word sy nie meer wakker nie en kan sy ook haar middagslapies sonder probleme geniet.”
Haar eetlus het ook verbeter. Haar spraak klink effens anders sedert die operasie, maar die familie is meegedeel dit behoort mettertyd te normaliseer.
Novalee moet nog vir ’n opvolgondersoek na die spesialis gaan om seker te maak dat sy behoorlik herstel. Sy sal ook met haar asma-medikasie voortgaan.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

