On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Strenger vonnisse gevra ná ligte straf vir hondegeveg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Thu, 17 Sep 2026

Strenger vonnisse gevra ná ligte straf vir hondegeveg | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Strenger vonnisse vir georganiseerde dieremishandeling word gevra nadat twee Noord-Kapenaars skuldig bevind is aan dieremishandeling, maar lig daarvan afgekom het.

Die opgeskorte boetes wat Christopher Boesak en Geriaan Maritz opgelê is, weerspieël nie die erns van die wreedheid wat in die saak blootgelê is nie, sê die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV). “Ons wil hê georganiseerde dieremishandeling moet behandel word as die ernstige misdaad wat dit is,” sê Arno de Klerk, senior inspekteur en bestuurder van die organisasie se spesialeprojekte-eenheid.

Op 30 Januarie 2024 is ’n klag oor ’n vermeende hondegeveg in die Britstown-gebied ontvang, saam met ’n video van die gebeure. Inspekteur Richman Sibande en senior inspekteur Matome Semenya het van Alberton, Gauteng, na Britstown gereis om die saak te ondersoek.

Die inspekteurs het die verdagtes opgespoor, waarna ’n lasbrief bekom en by twee eiendomme uitgevoer is. Die honde wat in die video geïdentifiseer is, is gevind en aan die NDBV oorhandig.


Hulle was vasgeketting en het onbehandelde wonde gehad. “Een uitgeteerde en siek hond is glo gedwing om in dié toestand te veg,” sê De Klerk.

Aanklagte van dieremishandeling en die aanbieding van hondegevegte is teen albei beskuldigdes aanhangig gemaak ingevolge die Wet op die Beskerming van Diere, Wet 71 van 1962. Ná meer as twee jaar se opvolgwerk is die saak verlede maand in die Britstownse landdroshof afgehandel.

Die beskuldigdes het albei skuld beken aan dieremishandeling ingevolge artikel 2(1)(b) van die wet. Die staat het egter besluit om nie ’n afsonderlike aanklag in verband met dieregevegte ingevolge artikel 2A van die wet voort te sit nie, al was die aanklag deur die NDBV in die dossier ingesluit.

Hulle is gevonnis tot ’n boete van R2 000 of ses maande gevangenisstraf elk, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie weer ’n soortgelyke oortreding begaan nie.

“Hondegevegte is onwettig en hou nou verband met ander misdaad wat mense, kinders en gemeenskappe benadeel waar dit plaasvind,” sê De Klerk.

“’n Volledige opgeskorte boete weerspieël nie die wreedheid in hierdie saak of die skade wat dit veroorsaak nie, en dit dra min daartoe by om ander af te skrik.” Inwoners word versoek om hondegevegte by nspca@nspca.co.za of 011 907 3590 aan te meld.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.