Central SA
Beskuldigde kry R30 000-borgtog in Emfuleni se R16 m.-bedrogsaak─── SIYAKHOLWA MBATYAZWA 10:08 Fri, 18 Sep 2026
Die landdroshof op Vanderbijlpark het borgtog van R30 000 toegestaan aan Mpho Edward Malema (40), ’n diensverskaffer en direkteur van Mabula Forestry and Construction.
Malema staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en diefstal van sowat R16 miljoen. Lerato Selaelo Mpholo (45), destydse vlootbestuurder van Emfuleni-munisipaliteit en beskuldigde een in die saak, het na bewering tussen Julie 2015 en Julie 2023 ’n betaling van R50 000 en ander onbekende bedrae van Malema ontvang.
Die geld is glo betaal in ruil daarvoor dat Mpholo munisipale vlootverkrygingskontrakte aan Malema en sy onderneming help toeken het.
Die munisipaliteit het daarna glo sowat R16 miljoen aan Malema betaal vir die aankoop van 18 voertuie, waaronder vragmotors en bakkies, sê Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder. “Die voertuie is egter na bewering nooit aan die munisipaliteit gelewer nie.”
Sewe van die voertuie is intussen by ander instansies teruggevind. Die oorblywende voertuie is steeds nie opgespoor nie.
Malema se inhegtenisneming volg op dié van Mpholo in Julie. Hy staan ook tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en diefstal wat met dieselfde ondersoek verband hou en is vroeër op borgtog van R25 000 vrygelaat.
Die R16 miljoen-vlootsaak en ’n afsonderlike elektrisiteitsbedrogsaak van R9,9 miljoen is twee verskillende strafsake. Albei maak deel uit van die Gautengse politiekemoordetaakspan se breër ondersoek na beweerde korrupsie in Emfuleni ná die moord op die fluitjieblaser Martha Mani Rantsofu.
Rantsofu se moord het tot ’n omvangryker ondersoek deur die taakspan gelei, wat verskeie beweerde korrupsiesake by Emfuleni insluit.
OFM Nuus het vroeër berig Rantsofu is in Maart deur ’n huurmoordenaar in die kop geskiet terwyl sy bande gekoop het. Sy het voor haar dood kommer uitgespreek oor beweerde fiktiewe faktuurbetalings, onwettige elektrisiteitsverbindings en die verkryging van die 18 voertuie.
Die betrokke tender is tussen 2022 en 2023 toegeken en het die aankoop van voertuie ter waarde van R16 miljoen behels.
Die staat het Malema se borgtogaansoek teengestaan. Die landdros het egter bevind dat dit in belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word en het die bedrag op R30 000 vasgestel.
Die saak is tot 29 September uitgestel vir verdere ondersoek. Malema sal dan saam met Mpholo, wat reeds op borgtog vrygelaat is, in die hof verskyn.
OFM Nuus/Siyakholwa Mbatyazwa cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.



