Central SA
Tien jaar ná plaasdood moet Vrystaatse boer weer hof toe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:04 Fri, 18 Sep 2026
Die bejaarde Vrystaatse boer wat teregstaan op ’n tien jaar ouemoordaanklag, moet Maandag (21/9) weer in die hof verskyn nadat die saak vroeër van die rol geskrap is.
Carl Christian Gutter (79) moet weer in Brandfort se landdroshof voorkom nadat die NVG besluit het om met die vervolging voort te gaan. Landdros Rasheed Matthews het die saak op 5 Mei van die rol geskrap weens herhaalde en onverklaarbare vertragings terwyl op ’n besluit gewag is.
Die saak was toe reeds byna ’n jaar op die hofrol hangende ’n antwoord van die NVG op vertoë deur die verdediging, asook ’n versoek dat die aanklagte heroorweeg word. Gutter staan tereg op ’n moordaanklag wat verband hou met die dood van Sonnyboy Segalo, wat hy na bewering in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het.
Luidens polisieverslae is beamptes na die plaas ontbied ná bewerings van ’n poging om ’n plaasaanval uit te voer. Vier verdagtes is glo op die toneel aangetref waar hulle deur boere en plaaswerkers aangehou is.

Adv. Allen Simpson (links) en Carl Christian Gutter. Foto: Charne van der Merwe
Segalo het met sy gesig na onder gelê met ’n skietwond in sy rug. Hy het later aan sy beserings beswyk. Niemand is destyds vir sy dood in hegtenis geneem nie. ’n Formele geregtelike doodsondersoek is egter in Julie 2024 deur die Brandfort-landdroshof geopen.
Die bevindinge van dié ondersoek, wat in Maart verlede jaar uitgereik is, het eindelik gelei tot ’n bevel vir Gutter se inhegtenisneming op ’n moordaanklag. Hy is op 21 Mei verlede jaar in hegtenis geneem en later R2 000 borgtog toegestaan.
Twee vuurwapens is op die toneel gekonfiskeer vir ballistiese toetse. Segalo en drie vermeende medepligtiges is aanvanklik van poging tot roof aangekla, maar die ander beskuldigdes is sedertdien vrygespreek.
Tydens ’n vorige hofverskyning het Gutter die landdros in Sotho meegedeel dat een van die aanvallers, wat volgens hom gewapen was, steeds op vrye voet is en dat hy vir sy lewe vrees. Adv. Allen Simpson, Gutter se regsverteenwoordiger, het gesê daar is geen ballistiese getuienis wat sy kliënt met die skietery verbind nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

