On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Emily100-begrafnisviering in Bloemfontein ’so surrealisties soos destyds’

───   SUSAN MARÉ 13:21 Fri, 18 Sep 2026

Emily100-begrafnisviering in Bloemfontein ’so surrealisties soos destyds’ | News Article
Kinders wat na Emily Hobhouse genoem is, en ’n Emile lei die stoet die stoet in 1962. Foto: The Story of Emily Collection

Die optog op 31 Oktober om Emily Hobhouse se 1926-begrafnis in Bloemfontein te gedenk, gaan “net so vreemd en surrealisties wees” soos die staatsbegranis 100 jaar gelede.

Elsabé Brits, projekdirekteur, joernalis en skrywer van onder meer die boek Emily Hobhouse Geliefde Verraaier, sê daar word beplan om die seremonie so getrou moontlik te herskep. “Op daardie dag vier ons die merkwaardige lewe van Emily, ’n pasifis, feminis en humanis met ‘n heropvoering van die gebeure soos dit in 1926 was by die Vrouemonument op die terrein van die Oorlogsmuseum.”

Nadat Hobhouse op 8 Junie 1926 in Londen oorlede is, is haar veraste oorskot na Suid-Afrika gebring. ’n Aangrypende begrafnis het op 27 Oktober 1926 in Bloemfontein gevolg waar haar as in ’n nis aan die voet van die Nasionale Vrouemonument weggelê is.

Dit was die eerste staatsbegrafnis vir ‘n vrou én buitelander in Suid-Afrika. Sowat 20 000 roubeklaers en hooggeplaastes, onder wie genl. Jan Smuts, het die begrafnis bygewoon. Dit was ’n dag van roerende huldeblyke om haar onbaatsugtige diens en die opofferings wat sy vir vroue en kinders in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), te eer.

Emily Hobhouse in ongeveer 1901 of 1902.  Foto: The Story of Emily Collection

Die begrafnisoptog destyds deur Bloemfontein is gelei deur ’n erewag van honderde vroue en kinders, baie van hulle geklee in tradisionele drag of wit klere. Die optog het by die historiese Tweetoringkerk in die sentrum van die stad begin waar haar oorskot die vorige nag in staatsie gelê het.

Ná die roudiens gelei deur eerwaarde J.D. Kestell, het die reuse-stoet oor ’n afstand van ongeveer vier kilometer suidwaarts uit die stad na die Vrouemonument beweeg waar sy ter ruste gelê het. Die stoet het uit perderuiters bestaan en skoolmeisies van die Oranje Meisieskool en Eunice High School.

Die Emily100-Eeufeesherdenking op 31 Oktober vanjaar in die stad is ’n heropvoering van historiese belang. Die Eeufeesstoet bestaan uit honderde Bloemfonteiners in tydperkkostuums (drag van die 1920’s). Honderd leerders van Oranje Meisieskool en nog soveel van Eunice High School sal in wit geklee agter die draagbaar aanstap.

Die kissie met die as is deur ses meisies gedra.  Foto: The Story of Emily Collection

Die meisies sal palmtakke dra, net soos destyds toe dit spesiaal van die Uniegebou na Bloemfontein gebring is, om by die monument neer te lê. Die Skriflesing is weer dié van destyds en dieselfde Psalms word gesing. Daar is ook ’n herhalng van Smuts se begrafnisrede deur die akteur Chris Vorster.

Smuts het onder meer gesê: “The first impression is one of the power and profound influence of women in the affairs of the world. The life of Emily Hobhouse is a striking instance of this power. Here was a great war, in which hundreds of thousands of men were engaged, in which the greatest Empire on earth was exerting all its strength and force.

“And an unknown woman appears from nowhere and presses the right button, and the course of our own history in South Africa is permanently altered.”

Alles word regstreeks op kykNET uitgesaai.

Genl. Jan Smuts lewer sy toespraak in 1926.  Foto: The Story of Emily Collection

Brits sê altesaam 650 mense neem deel – in die klere van daardie tyd. “Nes in 1926 sal 200 meisies van die Eunice- en Oranje-skole voor loop in die stoet, en ‘n skoolkoor sal die liedere van toentertyd sing. Die Vrystaatse Jeugblaasensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala, sal die mars aangee. By die monument speel hulle Largo van Händel. Ook volg ’n perdekommando.

“Ons gaan probeer om alles te herskep: Die dominee, verse uit Hollandse Psalms, ‘n loslaat van duiwe, afgevaardigdes in antieke motors, ’n berede kommando en ’n treursaluut.”

Sy benadruk waarom dit belangrik is om Hobhouse se lewe te gedenk.

’n Deel van die begrafnisgangers op die koppie agter die Vrouemonument.  Foto: The Story of Emily Collection

“Sy was ’n fluitjieblaser. Teen groot persoonlike koste het sy die haglike toestande in die konsentrasiekampe, bestuur deur mans, op die lappe gebring. Alleen het sy ’n magtige Ryk uitgedaag om vergrype in die gesig te kyk, in die middel van ’n oorlog toe patriotiese sentiment hoog loop.

“Tydens ’n era waar vroue geen stem gehad het nie, het sy aangedring dat ongeregtigheid raakgesien en reggestel word.”

Die publiek word uitgenooi om die geleentheid by te woon. Kaartjies vir “Ons onthou Emily” Is by Webtickets beskikbaar teen R15 per persoon. Daar is gratis parkering is op die skouterrein. Die hekke open om 08:30 en sitplekke moet om 10.30 ingeneem word, weens die regstreekse TV-uitsending wat om 11:00 begin.

Diegene wat kom moet onthou om ’n hoed en sonskerm te bring.

Emily Hobhouse op die ouderdom van 34 jaar.  Foto: The Story of Emily Collection

Ander aspekte van die viering is ’n nuwe uitstalling oor die lewe van Emily Hobhouse, en ’n herskepte seksie van ’n konsentrasiekamp soos dit gelyk het met tente op die terrein.

Ook op die program daardie dag is ’n demonstrasie van hoe kant gemaak word, asook spin-en weefdemonstrasies, ter herdenking van pogings om werk te skep vir oorlewendes uit die kampe.

Daar is ook ’n Blokkies vir Emily-gemeenskapsprojek.

Interessante gedenkwaardighede en boeke is te koop, asook eetgoed in die styl van daardie tyd.

Musiekteater oor Hobhouse

Deon Opperman het ’n splinternuwe musiekteaterdrama vir die vieri nge geskryf, The Story Emily, wat van 28 tot 31 Oktober in Sand du Plessis-teater op die planke is. Die musiek is deur Janine Neethling en die regié deur Nico Scheepers. Die akteurs is Kate Normington (Emily Hobhouse), David Minnaar (Lord Milner), Greg Viljoen (Lord Kitchener) en Daneel van der Walt (verteller). Kaartjies hiervoor is by Webtickets te koop.

Al die besonderhede oor die Emily100-herdenking is beskikbaar op die nuwe webtuiste Emily100.com, asook op Facebook en Instagram.

Nader Brits met vir navrae oor die heropvoering of geskiedkundige inligting by Elsabe@thestoryofemily.com, of 083 455 5724.

Karen Meiring, projekbestuurder, kan genader word met navrae oor die musiekteater en vir media-akkreditasie by karen@kfilms.co.za, of 083 200 3970.

OFM Nuus/Susan Maré

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.