On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Feestelike Erfenisnaweek in Oos-Vrystaat met koorsang in drie dorpe

───   SUSAN MARÉ 10:51 Fri, 25 Sep 2026

Feestelike Erfenisnaweek in Oos-Vrystaat met koorsang in drie dorpe  | News Article
Die Voces Libres-kamerkoor van Johannesburg wat in die Oos-Vrystaat optree. Foto verskaf

Erfenisnaweek in die Oos-Vrystaat is vanjaar, wat koorsang betref, ’n vreugdevolle samesyn van drie optredes op drie dorpe met die besoek van Voces Libres, ’n kamerkoor van Johannesburg.

Benewens die drie kooroptredes is daar ook die driedaagse Erfenisfees op die Gelofteterrein van Bethlehem en Clarens se driedaagse Liggiesfees wat dié dorp in ’n aand- en nagsprokie gaan verander.

Die optredes van die Voces Libres Chamber Choir van Johannesburg op Bethlehem, Clarens en Reitz is onder leiding van dr. Christelle Engelbrecht, artistieke direkteur en dirigent. 

Met Voces Libres se optrede in die NG Kerk Bethlehem-Panorama gaan Counterpoint ook optree. Die sanggroep is van die Bethlehemse gemeenskap.

Counterpoint is ’n sanggroep van Bethlehem. Foto verskaf

Engelbrecht is ’n erkende pianis, kamermusiek-musikant, kunsadministrateur en koordirigent. Sy het haar doktorsgraad in klaviervoordrag aan die Noordwes-Universiteit verwerf en veral in haar navorsing gefokus op ervarings van gehore van kamermusiek

Die koorkonsert Vrydag (25/9) in Panorama se kerk is gratis en begin om 18:30. Dit is die eerste keer in ’n lang tyd dat ’n besoekende koor van Voces Libres se gehalte die dorp besoek en saam met ’n Bethlehemse sanggroep optree.

Dr. Christelle Engelbrecht. Foto verskaf

Voces Libres se drie optredes is Vrydagaand op Bethlehem om 18:30, Saterdag om 12:00 in die NG kerk Clarens en Sondag om 09:30 en 10:45 in die NG Kerk Reitz. Toegang op Bethlehem en Reitz is gratis.

Die Voces Libres-koor is ’n onafhanklike gemeenskapskoor wat ervare sangers uit die groter Johannesburg-omgewing bymekaar bring om gehalte en diverse vierstemmige (SATB) koorstukke op te voer.

Vir koorliefhebbers sal dit inspirerend wees om te luister hoe twee unieke en onafhanklike koorgroepe hul afsonderlike stemme as ryk, gesamentlike harmonieë ten toon te stel. In die NG Kerk Reitz (27/9) sal Voces Libres eers deel wees van die gewone erediens en ná die diens ’n uitvoering van koorsang lewer.

Counterpoint

Die sanggroep Counterpoint se musiekrepertoire is toegespits op die vreugde van saamsing en om mense deur die passie van koormusiek bymekaar te bring.

Van die liedere wat Voces Libres gaan sing is Vir ’n pepermossie van Laurinda Hofmeyer (verwerk deur Jo-retha Rossouw), The seal lullaby van Eric Whitacare met teks deur Rudyard Kipling en Pie Jesu van Andrew Lloyd Webber met Dominique Deysel as solis.

Nog liedere op die program is Wees nie bevrees nie van Niel van der Watt, Ubi caritas van Ola Gjeilo, Your soul is singing van Jake Runestad en I lived van OneRepublic wat verwerk is deur Jacob Narverud.

Counterpoint sing Die wêreld binne my van Joshua na die Reën, ’n 60’s-medley, Sanctus van Franz Schubert, Summertime van George Gershwin (verwerk deur Danie Hyman) en Mister Sandman.

Theunis Marais, orrelis van die NG Moederkerk Reitz, was behulpsaam om die kooroptredes op Bethlehem en Reitz op die planke te kry. Hy nooi alle koorliefhebbers uit om die geleenthede by te woon.

“Dit gaan hopelik die begin van baie besoekende kore aan ons streek wees. Ons hoop om baie mense by die optredes te sien. Toegang op Bethlehem en Reitz is gratis.”

OFM Nuus/Susan Maré dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.