On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kathu-vrou se bedrogspul eindig in tronkstraf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:39 Mon, 28 Sep 2026

Kathu-vrou se bedrogspul eindig in tronkstraf | News Article
Amy Mellisa van Heerden. Foto verskaf

Die vonnis van ’n Noord-Kaapse vrou is verwelkom nadat die ondersoek tot ’n skuldigbevinding en jare lange gevangenisstraf gelei het.

Amy Mellisa van Heerden (30), ’n voormalige waarnemende werknemer van Nashua Kathu, is Vrydag (25/9) in die Kathu-landdroshof skuldig bevind en gevonnis. “Sy is tot ses jaar en ses maande se direkte gevangenisstraf gevonnis weens bedrog, geldwassery en diefstal waarby meer as R1 miljoen betrokke was,” sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Van Heerden is op 27 Februarie in hegtenis geneem ná ’n intensiewe ondersoek. Sy is later op R10 000 borgtog vrygelaat. Die hof het bevind dat Van Heerden, terwyl sy as werknemer by Nashua Kathu waargeneem het, haar werkgewer se bankbesonderhede sonder magtiging verander het om haar persoonlike bankrekeningbesonderhede te gebruik.

“Nashua het ’n verlies van meer as R1 miljoen gely nadat sakekliënte geld wat aan die onderneming verskuldig was in dié persoonlike rekening inbetaal het.”

Van Heerden is vir die bedrogklagte tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Sy is ook tot twee jaar direkte gevangenisstraf vir geldwassery en ses maande vir diefstal gevonnis.

Genl.Maj. Stephen Mabuela, provinsiale hoof van die Valke, verwelkom die vonnis en loof die ondersoek- en vervolgingspan vir hul volgehoue pogings om handelsmisdaad aan te pak en te verseker oortreders word voor die gereg gebring.

Bedrogsaak

In ’n ander bedrogsaak bly ’n Noord-Kaapse vrou agter tralies tot Dinsdag (6/10) nadat sy glo miljoene rand by ’n skool verduister het. Jessica Kuhn (43), ’n voormalige finansiële administrateur van die Hoërskool Kathu, staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente.

Haar borgtogaansoek is op 7 Julie teengestaan nadat die Valke nuwe feite aan die hof voorgelê het. Die hof het daarna borgtog geweier. “Dit is nog nie duidelik of sy weer om borgtog sal aansoek doen nie,” sê Mnisi.


Die saak hou verband met die beweerde verduistering van R4,6 miljoen van die skool se geld. ’n Oudit wat in Oktober gedoen is, het glo finansiële onreëlmatighede aan die lig gebring. Kuhn word daarvan beskuldig dat sy private bankrekeninge geskep het waarheen skoolgeld en skenkings oorgeplaas is. Die geld was geoormerk vir die salarisse van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.

Kuhn het na bewering fiktiewe fakture geskep wat gelyk het asof dit van wettige skoolverskaffers kom, sê Mnisi. Betalings is daarna glo na haar private rekening gemaak en tot haar voordeel aangewend. 

Jessica Kuhn. Foto verskaf

“Sy het ook oortydbetalings aan haarself toegestaan ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied.”

Sy is op 2 Julie by haar huis op Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem. Die Valke en die NVG het intussen ’n suksesvolle aansoek ingedien vir die bewaring van bates hangende die ondersoek, insluitend voertuie en ’n woonwa.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.