On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Volstruisboer se liggaam gekry: ‘Nou kan ons afskeid neem’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:57 Wed, 30 Sep 2026

Volstruisboer se liggaam gekry: ‘Nou kan ons afskeid neem’ | News Article
Sagaria (Saag) Jonker. Foto verskaf

Die familie van die Oudtshoornse volstruisboer Saag Jonker kan nou behoorlik van hom afskeid neem nadat sy voertuig met sy liggaam daarin ná ’n soektog van drie dae in die Olifantsrivier gevind is.

Jonker (85) is Dinsdagmiddag (29/9) gevind nadat sy voertuig Sondagmiddag deur die sterk stroom meegesleur is. Hy het vermoedelik probeer om ’n laagwaterbrug op die Rooiheuwel-pad, sowat 3 km buite Oudtshoorn, oor te steek toe die voertuig in die vloedwater verdwyn het.

Reddingswerkers, polisieduikers, familielede en lede van die gemeenskap het die daaropvolgende drie dae onverpoosd na Jonker en sy voertuig gesoek. Sy familie het Dinsdagaand sy dood bevestig nadat die voertuig uiteindelik opgespoor is.

Jonker was ondanks sy ouderdom steeds aktief by die boerdery betrokke en het die dag van sy verdwyning, soos al jare lank, sy gewone rondtes en inspeksies op die plase gedoen. Sy seun, Morné Jonker, het vroeër aan OFM Nuus gesê sy pa was omstreeks 12:50 op pad terug huis toe.

Die Jonker-familie is van links Hein, Darias, Saag, Hazel, Morné en Niël. Foto verskaf

Die Olifantsrivier was in vloed ná swaar reën in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes. Die familie het reeds tydens die soektog begin vrede maak met die moontlikheid dat Jonker nie lewend gevind sou word nie, maar het bly hoop dat hy en sy voertuig opgespoor kon word.

“Na drie ongelooflik moeilike dae van onsekerheid, hoop, gebed en ’n onvermoeide soektog is ons as familie diep dankbaar dat Oupa in sy bakkie in die Olifantsrivier gevind is,” lui die familie se verklaring.

“Al is ons harte baie seer, is daar ook ’n groot gevoel van dankbaarheid en berusting dat ons hom gevind het, dat ons hom nou huis toe kan bring, en dat ons as familie saam behoorlik van hom kan afskeid neem.”

Sy familie het hul dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn-gemeenskap en almal wat oor die drie dae aan die uitgebreide soektog deelgeneem het.

Jonker was ’n gesiene figuur in die Suid-Afrikaanse landboubedryf en is in 2000 deur die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika as die land se Boer van die Jaar aangewys.

Die polisie ondersoek intussen die omstandighede rondom sy dood. ’n Dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek is geopen en ’n nadoodse ondersoek sal later vandeesweek gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel, sê provinsiale polisiewoordvoerder ao. Chris Spies.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.