On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Hartoperasie wag op ongebore baba van Vaaldriehoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:20 Wed, 30 Sep 2026

Hartoperasie wag op ongebore baba van Vaaldriehoek | News Article
Pieter en Jeanré Meyer wag op die koms van hul babadogtertjie, Azaria. Foto verskaf

’n Ongebore baba van die Vaaldriehoek se eerste dae van haar lewe sal reeds met ’n hartoperasie begin, maar haar ouers hou vas aan die hoop dat sy ná alles ’n vol lewe sal hê.

Jeanré (26) en Pieter Meyer (44) van Vereeniging het in Mei uitgevind hul eersteling is op pad en was aanvanklik oorweldig deur geluk en dankbaarheid. Net ’n paar weke later het ’n anatomiese skandering gewys iets is fout met hul dogtertjie se hart.

Hulle het haar die naam Azaria gegee. ’n Naam wat volgens Jeanré “gehelp deur God, sterk gemaak deur Sy genade” beteken. Sedert hulle van hul dogtertjie se toestand uitgevind het, het dié betekenis vir hulle selfs groter geword.

Verdere ondersoeke het bevestig sy het Truncus Arteriosus, ’n seldsame hartafwyking waarin daar net een groot bloedvat uit die hart kom, in plaas van twee wat bloed na die longe en die res van die liggaam vervoer, vertel Jeanré. “Azaria het ook ’n gaatjie tussen die onderste twee kamers van haar hart, terwyl sy tans net een hartklep het.”

Azaria het 'n seldsame hartafwyking. Foto verskaf

Ná haar geboorte, wat vir 9 November beplan word, sal dokters die enkele groot bloedvat chirurgies skei om die nodige bloedvloei-roetes te skep. Hulle sal ook die gaatjie in haar hart toemaak en ’n nuwe hartklep vorm en inplant. Die prosedure sal deur haar kardioloog, dr. Jeff Harrisberg van Netcare Sunninghill-hospitaal en ’n span spesialiste uitgevoer word.

Die geboorte en verdere behandeling sal by dié hospitaal plaasvind waar spesialiste en ’n neonatale intensiewesorgeenheid op haar koms wag.

Azaria sal na verwagting ongeveer twee weke in die eenheid deurbring om sterk genoeg te word vir die operasie. Daarna kan die duur van haar hospitalisasie wissel, afhangend van hoe sy op die behandeling en operasie reageer.


“Skok. Ek dink dit is die beste beskrywing wat ek kan gee,” sê Jeanré oor hul eerste reaksie toe hulle hoor hul dogtertjie sal kort ná haar geboorte ’n opehartoperasie nodig hê en moontlik tot drie maande in die hospitaal kan wees. Haar ouers kan hulself nog nie op dié werklikheid voorberei nie.

‘Ons berei onsself voor deur gebed’

“Ek kan eerlik sê die enigste manier waarop ons daarop voorberei, is deur gebed. Ek dink nie daar is regtig ’n manier waarop iemand homself kan voorberei vir sy of haar pasgebore baba se opehartoperasie nie,” sê Jeanré.

Buiten die emosionele spanning plaas die situasie ook groot geldelike druk op die gesin. Die egpaar het tans nie ’n mediese fonds nie en verwag dat hulle ongeveer R100 000 of meer sal benodig vir die bevalling, spesialis- en mediese uitgawes asook koste vir Jeanré se verblyf en daaglikse besoeke aan Azaria.

Die ouerpaar is opgewonde oor hul dogtertjie se koms, ondanks die moeilike tyd wat voorlê. Foto verskaf

Die gesin woon saam met Jeanré se skoonma en Pieter se broer in ’n huis in Vereeniging en probeer binne hul vermoëns deur dié moeilike tyd kom. Jeanré sal ná die geboorte moontlik daagliks tussen hul huis en die hospitaal moet reis om Azaria te voed en by haar te wees.

‘Ondersteuning haal groot las van ons skouers’

UBEE4ME het intussen by die gesin betrokke geraak nadat ’n vriendin van Jeanré die organisasie van hul situasie vertel het.

“Die ondersteuning het reeds ’n groot las van ons skouers afgehaal,” sê Jeanré. “Ons grootste wens is nie enigiets buitensporigs nie. Ons wil net hê Azaria moet die geleentheid kry om te lewe, te groei, groot te word en ’n vol lewe te hê.”

Buiten haar hartafwyking is Azaria woelig en groei sy mooi. Jeanré het tans geen ander probleme met die swangerskap nie. “Hoewel daar baie onsekerheid voorlê, kan ons nie wag om ons prinsessie vir die eerste keer vas te hou nie. Ons grootste gebed is dat Azaria haar kans kry om te lewe.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvdw

 Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.