On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Wêreldonderwysersdag: Deel daardie verhale oor ‘super-onnies’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:02 Mon, 05 Oct 2026

Wêreldonderwysersdag: Deel daardie verhale oor ‘super-onnies’ | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

“Maar juffrou sê so.”

Vir menige ouer is dié woorde baie bekend tydens die laerskooljare. Wanneer ’n sesjarige met absolute oortuiging verduidelik dat iets “so is omdat juffrou sê so”, is dit moeilik om die argument te wen.

Dit is juis dié besondere invloed van onderwysers – en die dikwels onmeetbare verskil wat hulle in kinders se lewe maak – wat vanjaar op Wêreldonderwysersdag gevier word.

Dié dag word jaarliks op 5 Oktober gevier. Omdat Suid-Afrikaanse skole vanjaar nog met vakansie is, sal die skoolbeheerliggaam-organisasie Fedsas Vrydag (9/10) spesiaal hulde bring aan onderwysers, sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof.

Die viering kom boonop in ’n belangrike herdenkingsjaar. Dit is 60 jaar gelede dat die internasionale gemeenskap die status van onderwysers amptelik erken het.

“Hierdie status weerspieël onderwysers se simboliese rol in die samelewing, hul professionele gesag en kundigheid, en die finansiële en ander steun wat nodig is vir onderwysers om hul werk te doen,” sê Deacon.

Vir baie onderwysers beteken dié werk egter veel meer as net lesse, assesserings en rapporte. Hulle is dikwels mentors, rolmodelle, vertrouelinge en ondersteuners – mense wat ’n blywende indruk op ’n kind se lewe kan laat.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas. Foto verskaf

Deacon sê baie Suid-Afrikaanse onderwysers maak elke dag ’n verskil, dikwels ondanks ’n uitdagende werksomgewing. “Onderwysers verdien erkenning vir wat soms letterlik heldedade is.” 

Wêreldonderwysersdag bied volgens hom aan ouers en kinders die geleentheid om dankie te sê aan die leerkragte wat ’n verskil maak. Maar erkenning behoort nie net tot een dag per jaar beperk te word nie.

“Op al die ander dae is dit politici, amptenare en onderwysrolspelers se plig om elke moontlike geleentheid te gebruik om onderwysers se wêreld beter te maak deur beter onderwysbestuur,” sê Deacon.

Superheld-onderwysers

Fedsas vier vanjaar opvoeders met die veldtog #MyTeacherTheHero/#MyOnnieDieHeld, waarmee Suid-Afrikaners aangemoedig word om hul stories van besonderse onderwysers te deel.

“Ons almal het ’n storie oor ’n superheld-onderwyser wat ’n verskil in ons of ons kinders se lewe gemaak het,” sê Daniëlla van Heerden, Fedsas-kommunikasiebestuurder.

Ouers, leerders en oudleerders word genooi om dié stories, asook foto’s en video’s, op sosiale media te deel met die hutsmerke #MyTeacherTheHero en #MyOnnieDieHeld. Fedsas beplan om van dié stories van Maandag (5/10) tot Vrydag (9/10) op sy platforms te deel.

Van Heerden sê die veldtog gaan oor meer as net ’n dankie. “Vir moedelose onderwysers is dit wonderlik om te weet hul werk word raakgesien.

“Vir moedelose ouers is dit gerusstellend om te sien hoeveel toewyding daar tot hul kinders se toekoms is. En vir moedelose Suid-Afrikaners is dit sommer net lekker om te deel in die positiewe energie van goedvoel-stories!”

Want hoewel kinders uiteindelik hul eie paaie loop, bly die invloed van ’n goeie onderwyser dikwels lank nadat die laaste skoolklok gelui het.

En soms begin daardie invloed met iets so eenvoudig soos twee woorde wat geen sesjarige ooit bevraagteken nie: “Juffrou sê.”

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.