On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

International

Andrew betwis wettigheid van Britse polisie se optrede teen hom

───   11:33 Mon, 05 Oct 2026

Andrew betwis wettigheid van Britse polisie se optrede teen hom | News Article
Andrew Mountbatten-Windsor. Foto: Facebook

’n Britse hof beslis Donderdag (8/10) oor die wettigheid van Andrew Mountbatten-Windsor se inhegtenisneming in Februarie.

Die voormalige prins stel regstappe in teen die Thames Valley-polisie se hantering van sy inhegtenisneming. Hy is op grond van inligting in die Epstein-lêers daarvan verdink dat hy onregmatig opgetree het terwyl hy ’n openbare amp beklee het. 

Mountbatten-Windsor se regsverteenwoordigers betwis die deursoekingslasbriewe wat gebruik is vir die optrede by Sandringham en Royal Lodge in Windsor, berig The Telegraph. Hy het toestemming gekry om die vraag voor die hof te bring of die polisie wettig opgetree het tydens die deursoekings. 

’n Foto in die Epstein-lêers waarop Andrew en Virginia Giuffre verskyn het. Sy het jare later haar eie lewe geneem. Regs is Ghislaine Maxwell. Foto: X

Sy inhegtenisneming en die polisieoptrede het gevolg op bewerings dat hy gedurende sy tyd as Brittanje se handelsgesant sensitiewe inligting met Jeffrey Epstein gedeel het.

’n Justisiewoordvoerder sê ’n aansoek hieroor is by die hooggeregshof in Londen ingedien en die hof sal Donderdag hieroor beraadslaag. Die Thames Valley-polisie bevestig hulle is betrokke by regsgedinge oor die lasbriewe wat voorheen toegestaan is deur die sentrale strafhof.

’n Polisiewoordvoerder het aan BBC News gesê terwyl die saak aan die gang is, sal dit onvanpas wees om verdere kommentaar te lewer.

Titels kwyt

Mountbatten-Windsor, wat sy titels as prins en hertog van York verloor het weens sy verbintenisse met die seksoortreder Jeffrey Epstein, het ’n aansoek ingedien om geregtelike hersiening. Die verhoor Donderdagmiddag sal na verwagting agter geslote deure plaasvind.

Die lasbriewe is op 18 Februarie deur ’n regter van die sentrale strafhof uitgereik, die dag voordat Mountbatten-Windsor aangekeer is. Die regsgeding is gerig teen die hoofkonstabel van die Thames Valley-polisie en dié hof.

Vir dae ná die inhegtenisneming kon gesien word hoe polisielede Mountbatten-Windsor se eiendom by Marsh Farm in Sandringham en sy vorige woning, Royal Lodge op die Windsor-landgoed, deursoek het.

Die inhegtenisneming was op sy 66ste verjaardag en hy is daarna na die polisiekantoor in Aylsham geneem. ’n Foto wat later die dag geneem is, het gewys hoe hy teruggebring word na sy woning. Hy het uitgeput voorgekom nadat hy vrygelaat is.

Die Thames Valley-polisie sê sy ondersoek duur steeds voort. Mountbatten-Windsor het deurgaans enige oortreding in verband met sy verbintenisse met Epstein ontken.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.