On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Upington-pa Saterdag gegroet; ma veg steeds om haar lewe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:55 Tue, 13 Oct 2026

Upington-pa Saterdag gegroet; ma veg steeds om haar lewe | News Article
Léhan en Sunica Muller. Foto verskaf

Die Noord-Kaapse pa wat ’n week gelede in ’n ernstige motorongeluk dood is, word Saterdag (17/10) gegroet, terwyl sy vrou steeds in die hospitaal om haar lewe veg.

Léhan Muller (33) was Dinsdag (6/10) saam met sy vrou, Sunica (31), in die ongeluk betrokke sowat 5 km buite Olifantshoek. Hy is op slag dood.

Sunica het ernstige beserings opgedoen en is Woensdag (7/10) per Aerocare-vliegtuig na Kimberley geneem weens die erns van haar beserings.

Haar toestand het verdere kommer veroorsaak toe sy kort ná 23:00 vir ’n noodoperasie teater toe geneem is om bloeding en drukking op haar brein te verlig. Die operasie het volgens haar familie suksesvol verloop.

Sunica en Léhan Muller en hul kinders, Léha, AB en Léhan jr. Foto verskaf

“ ’n Skandering wat Maandag (12/10) gedoen is, het donker kolle op Sunica se brein getoon weens die beroertes wat sy gehad het. Die erns daarvan sal egter eers bepaal kan word wanneer sy wakker is,” sê Jenni van der Merwe, haar suster.

Sy word steeds onder verdowing gehou, maar is reeds van morfien afgehaal. Sy toon reaksie, en het haar susters se hande vasgedruk en blykbaar op mense se stemme gereageer.

Haar bloeddruk en hartklop word as goed beskryf, terwyl haar temperatuur stabiel is. Van der Merwe sê die familie wag op verdere terugvoering van die mediese span oor hoe dit gaan met die res van Sunica se liggaam asook oor haar herstel. “Ons is dankbaar vir elke klein reaksie en hou aan bid vir herstel.”

Die Mullers se voertuig het na bewering met ’n aankomende vragmotor gebots, waarna beheer oor die voertuig verloor is. Die egpaar, wat sowat twee maande gelede van George na Upington verhuis het, was agt jaar getroud en 13 jaar saam.

Hulle het drie jong kinders, AB (7), Léha (4) en Léhan jr. (3), wat nie tydens die ongeluk in die voertuig was nie.

Léhan se troosdiens is Saterdag om 11:00 in die NG kerk Delportshoop.

Die familie het intussen ’n geldinsameling begin vir Sunica se mediese koste, Léhan se begrafnis en moontlike toekomstige uitgawes vir die kinders .

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.