Central SA
Spoglaerskool in die Riemland vier sy 30ste bestaansjaar─── SUSAN MARÉ 16:46 Thu, 15 Oct 2026
In die skaduwees van Elandskop is daar ’n laerskool in Petrus Steyn wat nie ’n tree terugstaan vir ander skole nie.
Die Laerskool J.A. Malherbe (die skoolgemeenskap verwys na hulself as “Jammies”) vier die naweek van 31 Oktober sy 30ste bestaansjaar. Die geleentheid beloof vreugdevolle samesyn.
Die oorsponklike skoolgebou is in 1913 opgerig as Hoërskool J.A. Malherbe. Die skool het ’n ryk en intieme geskiedenis wat nou skakel met die gemeenskap van die plaasdistrik en die geskiedenis van Afrikaanse onderwys.
Die skool is na die eerste skoolhoof, mnr. J.A. Malherbe, genoem, en het in 1913 met slegs vyf leerlinge begin. Die ou hoërskool is nou bekend as die Kwetlisong High School. Die ou Malherbe-koshuis, wat talle leerlinge vir dekades gehuisves het, se geboue is ingerig vir die nuwe skool.

’n Mens hoef nie twee en twee bymekaar te sit om te weet waar die getal 30 vir hierdie muntlegging gekies is nie. Foto verskaf
Onder leiding van die plaaslike erfenisaktivis Twin Mosia is ’n amptelike blou gedenkplaat op die gebou aangebring. Sodoende word die leerders en personeel daagliks aan die geskiedkundige skat herinner waarin hulle skoolgaan. Een van die bekendste oudleerlinge van die skool was die taalkundige en skrywer prof. J.C. (Jaap) Steyn (1938-2021) wat in 1955 hier gematrikuleer het.
Skoolhoof Bokkie Bosman sê die skool het ná die 1994-verkiesing ontstaan uit die gemeenskap se behoefte om ’n Afrikaanse laerskool op Petrus Steyn te laat voortbestaan.
“As ons vandag terugkyk, besef ons dit was veel meer as net die stigting van ’n skool. Dit was die begin van ’n gemeenskap se droom, geloof en bereidwilligheid om saam te werk.
30 jaar van genade
“Dertig jaar later staan ons steeds hier. Ons het baie om voor dankbaar te wees – ons akademiese standaarde, ons sport, ons kultuur en die goeie naam wat ons in ons omgewing opgebou het. Dit is werklik 30 jaar van genade.”
Die Saterdagprogram van die vieringsnaweek sluit die aanplant van bome in asook ’n mark en kuiertuin. Laatmiddag is daar ’n potjieskoskompetisie met goeie geldpryse. Saterdagaand gaan jolig gedans word onder begeleiding van ’n orkes. Wanneer die voete weer koud geword het, op Sondag 1 November, word ’n kerkdiens om 09:30 in die skoolsaal gehou.
Op 31 Oktober gaan 30 bome geplant word. Oudonderwysers, vorige skoolhoofde en voormalige beheerliggaamlede gaan hierdie oomblik saam vier. “Die bome simboliseer vir my iets besonders. Ons bou nie net aan ’n skool vir vandag nie. Ons plant ook vir die geslagte wat ná ons gaan kom. Baie mense het reeds aan hierdie skool help bou en ons wil hulle erken en bedank,” sê Bosman.
“En ná al die mooi, simboliese oomblikke gaan ons natuurlik ook saamkuier om ’n lekker skaapkop- of potjiekos-ete te geniet. ’n Mens kan darem ook nie net van simboliek leef nie!”
Wat maak J.A. Malherbe anders? Bosman sê dit is ’n besonderse skool wat deur ’n besonderse gemeenskap gedra word. “Ons verwag baie van ons personeel en ons leerders. As jy eenmaal deel is van hierdie skool, het jy ’n verantwoordelikheid om sy naam hoog te hou.
“Ons leuse is die oorspronklike een: Waak en Werk. Omdat ons ’n kleiner skool is, ken ons elke leerder. Ons ken hul vermoëns, persoonlikhede, omstandighede, sterkpunte en uitdagings. Dit gee ons die geleentheid om in elke kind as individu te belê.”

Goeie spellers van Jammies wat hul man op die Wow-spelfees gestaan het. Foto verskaf
Bosman sê die laerskool is ’n kwintiel 4-skool wat ’n skoolfonds hef en die nasionale kurrikulum, Caps, word gevolg. Dit beteken die skool is self verantwoordelik vir ’n groot deel van sy finansiële behoeftes vir voortbestaan.
Danksy ’n meelewende, sterk gemotiveerde gemeenskap, personeel, ouers en die Here se genade presteer die laerskool op verskillende terreine en staan hy nie terug vir groter skole op groter dorpe nie.
Daar was al wenners in die nasionale ATKV-redenaarskompetisies met leerlinge wat onder die topdrie was. Leerders was ook onder die topdrie in die provinsiale Wow-spelkompetisie. Op sportgebied was daar spelers wat Cravenweekrugby gespeel het, atlete op nasionale vlak en netbalspanne wat in die Oos-Vrystaatse ligas presteer het.
Geldinsamelings is altyd ’n uitdaging, vertel Bosman. Dit is noodsaaklik vir die skool se voortbestaan. Van die projekte wat aangepak word, soos die gholfdag, landbouprojekte en markdae, betaal ongeveer 70% van die personeel se salarisse.
“ ’n Skool is so sterk as wat sy gemeenskap is. Die Petrus Steyn-gemeenskap is ongelooflik ondersteunend met ouers wat rotsvas by die skool staan. Dis nie altyd maklik om ’n Afrikaanse laerskool in vandag se omstandighede aan die gang te hou nie, maar ons is boeremense. Ons weet hoe om hard te werk, planne te maak en deur moeilike tye te kom.”
Hy het geleer ’n skool word nie deur een persoon gebou word nie. Dit word gebou deur mense wat bereid is om saam te werk, soms ekstra moeite te doen en aan te hou wanneer dinge moeilik raak. “Ek het ook geleer dat ons nie altyd dadelik die vrugte van ons harde werk sien nie. Soms plant jy vandag ’n saadjie waarvan iemand anders eers jare later die vrugte pluk.
“Daarom is die bome wat ons gaan plant so ’n gepaste simbool vir ons bestaansviering. Ons staan op die skouers van mense wat voor ons hier gewerk het. Ons moet seker maak dat daar iets sterk en gesond is waarop die volgende geslag kan voortbou.
‘Die mense wat voor ons hier was, het die grond voorberei en die wortels gevestig’
“Ons sê graag ons is ’n klein skool, maar ons dink nie klein nie. En uiteindelik glo ons dat ’n skool nie net deur geld gebou word nie. Dit word gebou deur mense wat omgee, bereid is om hande vuil te maak en glo dat dit wat hulle doen, ’n verskil maak.”
Bosman se grootste wens is dat J.A. Malherbe oor 30 jaar steeds ’n sterk Afrikaanse laerskool op Petrus Steyn sal wees. “Ons plant nie net bome om die afgelope 30 jaar te vier nie. Ons plant vir die volgende 30 jaar. Die mense wat voor ons hier was, het die grond voorberei en die wortels gevestig.
“Dit is nou ons verantwoordelikheid om daarop voort te bou sodat die volgende geslagte ook die vrugte daarvan kan geniet. Ons kan met dankbaarheid sê dit was 30 jaar se genade. Ons vertrou die Here met die volgende 30 jaar.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

