On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-slikramp: Aanklagte teen twee mans, maatskappy teruggetrek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:33 Wed, 25 Nov 2026

Jagersfontein-slikramp: Aanklagte teen twee mans, maatskappy teruggetrek | News Article
Die beskuldigdes in die hof. Foto Charne van der Merwe

Aanklagte teen twee mans en ’n maatskappy in die strafsaak oor die Jagersfontein-slikramp is Woensdag (25/11) teruggetrek, terwyl vertoë namens ’n verdere beskuldigde ingedien is om die aanklagte teen hom te laat vaar.

Gert Abraham Coetzee (34), Jan Homes Viljoen (81), Marius de Villiers (62), Petrus Jacobus Oosthuizen (60) en Petrus Johannes Combrink (60) het Woensdag die tweede keer in die Bloemfonteinse hooggeregshof verskyn. Die aanklagte teen Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners is tydens die hofverrigtinge deur adjunk-regterpresident Martha Mbhele teruggetrek.

Adriaan Janse van Rensburg, wat die mans en die maatskappy verteenwoordig, het vroeër vertoë aan die Vrystaatse DOV gerig. Oosthuizen het buite die hof aan OFM Nuus gesê die aanklagte het sy onderneming skade berokken en hom ’n aansienlike aantal kliënte gekos.

Adv. Allen Simpson, wat namens Viljoen optree, het bevestig verdere verwikkelinge kan in die saak verwag word. “My kliënt het, in die lig van die staat se besluit om die aanklagte teen die drie ander beskuldigdes terug te trek, opdrag gegee dat vertoë ook namens hom ingedien word, in die hoop dat die aanklagte teen hom eweneens teruggetrek sal word.”

Die saak is tot 21 Junie uitgestel omdat deskundige verslae waarop die oorblywende beskuldigdes en verwante maatskappye steun, nog nie gereed is nie.

Die uitstel is op versoek van die oorblywende beskuldigdes, Viljoen, De Villiers en Combrink, asook die maatskappye SRK Consulting (South Africa) en Jagersfontein Developments, toegestaan. Hulle het deskundige verslae aangevra wat steeds uitstaande is.

Hulle staan tereg op meer as 130 aanklagte, waaronder moord, grootskaalse omgewingsbesoedeling, die verskaffing van vals of onvolledige inligting en oortredings van damveiligheidsregulasies. Die wal van die slikdam het op 11 September 2022 meegegee en groot verwoesting op die historiese Vrystaatse myndorp veroorsaak.

Petrus Jacobus Oosthuizen, Adriaan Janse van Rensburg en Gert Abraham Coetzee. Foto: Charne van der Merwe

Die moordaanklagte hou verband met die dood van Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Mosoeu en Msokoli Petrus Khuthu. Williams en Mosoeu se lykskouingsverslae het aangedui hulle het verdrink, terwyl Khuthu sedert die ramp vermis word.

Die ander aanklagte sluit in versuim om aan die voorwaardes van ’n watergebruiklisensie te voldoen, die versuim om ’n dam met ’n veiligheidsrisiko te registreer en die ongemagtigde wysiging van so ’n dam. Die ramp het huise en ander eiendom beskadig of verwoes, verskeie inwoners beseer en groot hoeveelhede slik oor die omliggende gebied versprei.

Al die beskuldigdes is vroeër op hul eie verantwoordelikheid vrygelaat.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.