On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Onderwysers en leerders steeds onveilig ondanks wetgewing, waarsku SAOU

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:11 Wed, 25 Nov 2026

Onderwysers en leerders steeds onveilig ondanks wetgewing, waarsku SAOU | News Article
Foto: iStock

Ondanks wetgewing wat werknemers teen geweld en teistering beskerm, bly geslagsgebaseerde geweld en onveilige werksomstandighede ’n ernstige probleem in Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê die behoorlike implementering van bestaande wetgewing en die daarstelling van toeganklike rapporteringstrukture is noodsaaklik om vroue, kinders en onderwysers te beskerm. Slagoffers word steeds onvoldoende beskerm en ondersteun, sê Paul Sauer, uitvoerende beampte van die SAOU.

Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders is ’n wêreldwye veldtog wat jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaasvind. Die veldtog fokus op bewusmaking, die bekamping van geweld en die beskerming van vroue en kinders teen mishandeling, misbruik en ander vorme van geweld. Dit herinner gemeenskappe daaraan dat die stryd teen geslagsgebaseerde geweld elkeen se verantwoordelikheid is en dat elke slagoffer die reg op veiligheid en geregtigheid het.

Suid-Afrika was reeds in November 2022 een van die eerste lande wat die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se Konvensie 190 in nasionale wetgewing opgeneem het. Dit was die eerste internasionale verdrag wat die reg van elke persoon erken om in ’n werksomgewing sonder geweld en teistering, insluitend geslagsgebaseerde geweld, te werk.

'Geweld teen vroue en kinders word oorskadu deur ander misdade'

Die SAOU meen dit behoort dus nie nodig te wees om jaarliks opnuut aandag aan hierdie regte te vestig nie, aangesien dit reeds deur wetgewing beskerm word.

Die organisasie sê 2026 sal egter onthou word vir verskeie gewelddadige voorvalle, waaronder die dood van 13 vroue in die Ekurhuleni-gebied, asook talle kinders wat gewelddadig gesterf het.

“Baie gevalle van fisieke geweld teen vroue en kinders verdwyn of word op die agtergrond geskuif te midde van ander misdaadkwessies, soos bendegeweld en onopgeloste misdade,” sê Sauer.

Die organisasie ondersteun die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Foto: iStock

Die organisasie dink veral aan onderwysers wat vanjaar in die uitvoering van hul pligte vermoor is, onder wie sommige wat in skole doodgeskiet is en ander wat op pad na hul werkplek aangeval en vermoor is.

Hulle wil ook hulde bring aan onderwysers wie se fisieke en emosionele welstand deur ondraaglike werksomstandighede, onbillike druk en teistering geraak is. Dit sluit ook onderwysers in wat deur leerders aangerand, belaster en geteister is, maar wie se ervarings nie dieselfde openbare aandag kry nie.

Sauer waarsku die gebrek aan behoorlike rapporteringstrukture waar vroue en kinders geslagsgebaseerde geweld kan aanmeld, is steeds ’n groot probleem.

'Ondersteuning aan slagoffers en rehabilitasie van oortreders noodsaaklik'

“Die implementering van inkrimpingsbegrotings in provinsies bemoeilik volgens die organisasie ook die vestiging van ondersteuningstrukture by distrikte en provinsiale onderwysdepartemente, wat slagoffers kwesbaar laat.

“Hoewel verskeie inisiatiewe ingestel is om onderwysers en ander onderwyspersoneel deeglik na te gaan en die misbruik van leerders te beperk, bly ’n gebrek aan kapasiteit en finansiële ondersteuning ’n struikelblok.”

Hy sê dié tekortkominge verhinder die departement van basiese onderwys om sy wetlike verpligtinge na te kom en skep ruimte vir oortreders om met teistering voort te gaan.

Die organisasie ondersteun die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders maar beklemtoon dat werklike verandering die samewerking tussen gemeenskappe, implementering van wetgewing en toeganklike rapporteringstrukture sal vereis.

“Deurlopende ondersteuning aan slagoffers en die rehabilitasie van oortreders is volgens die SAOU ook noodsaaklik om die siklus van misbruik en geweld te beëindig,” sê Sauer.

OFM Nuus  cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.